O, die Baanbreker Voortekkers het ‘n perd, ‘n blink stokperd

Die verkenners het tydens hul eerste byeenkoms in cowboy-uitrustings en met selfgemaakte stokperde gesing en gedans op die maat van musiek soos Die blink Vosperd

Daar het ‘n vrolike stemming geheers toe die Baanbreker Voortrekker Kommando op 15 Maart sy eerste byeenkoms vir 2021 te Laerskool Baanbreker gehou het met ‘n cowboy-tema.

Dit was ook die eerste keer sedert die inperking dat dié kommando se spanne die groen lig gekry het om weer by die skool bymekaar te kom.

Verkenners het in cowboy-uitrustings en met selfgemaakte stokperde gesing en gedans op die maat van musiek soos Die blink Vosperd en Sporelied. Agter die joligheid was daar ook ‘n ander doel. Die leerders het ook nie-bederfbare voedsel gebring wat later aan behoeftiges geskenk gaan word.

Die oogmerk van die dag was om positiwiteit te versprei onder die verkenners en samehorigheid te bewerkstellig.

Hennie Venter, kommandoleier, het die eerste ontmoeting as groot ‘n sukses beskryf.

“Ons is baie bly dat ons weer by die skool mag byeenkom en ek dink die leerders het dit baie geniet. Ons het al bymekaargekom sedert die inperking, maar nog nooit by die skool nie,” het hy gesê.

Verder het die kommandoleier verduidelik dat die Voortekkers hierdie jaar 90 word en hul tema vir die jaar is Voortekkers gaan groot.

“Daarom is ons kommando se tema hierdie jaar ‘Voortrekkers gee groot’. Ons wil diensbaar wees,” het hy bygevoeg.

Die Baanbreker Voortrekkers gaan nou elke Maandag om 4nm by Laerskool Baanbreker ‘n byeenkoms hou. Alle Covid-19-regulasies word gevolg.

Vir meer inligting oor die kommando, kontak Hennie by 083 560 7574 of 011 896 1559.

Lees Ook: Baanbreker Voortrekkers maak harte oop teenoor ouetehuis

Lees Ook: Plaaslike verkenner op nasionale vlak vereer

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version