Oppiwater Kunstefeeste uitgestel na 2022

Feesgangers wat vir hierdie vaarte bespreek het, sal outomaties oorgeplaas word na die nuwe datums sonder enige ekstra kostes

RSG (Radio Sonder Grense) en Lefra Produksies het aangekondig dat hul gewilde Oppiwater Kunstefeeste moes as gevolg van Covid-19 uitgestel word na 2022.

Die Kaapstad-Namibië Oppiwater van 21 tot 26 April word nou uitgestel na 23 tot 28 Januarie en die Durban-Mosambiek Oppiwater van 5 tot 9 April word uitgestel na 4 tot 8 April volgende jaar.

Dieselfde roetes sal steeds van toepassing wees. Feesgangers wat vir hierdie vaarte bespreek het, sal outomaties oorgeplaas word na die nuwe datums sonder enige ekstra kostes. Vir enige inligting kan MSC Cruises geskakel word by 087 630 0333 of 011 815 3000.

Alle nuutste inligting sal op die webtuiste (www.oppiwater.co.za) verskyn.

MSC Cruises het in ’n verklaring gesê dat as gevolg van die vertraging deur die regering om toestemming aan die vaartbedryf te verleen, was MSC Cruises gedwing om die moeilike besluit te neem om alle vaarte in die huidige Suid-Afrikaanse seisoen te kanselleer.

MSC Cruises het reeds vanaf Maart in noue samewerking met die verskillende outoriteite gewerk om hul omvattende gesondheids- en veiligheidsprotokol goedgekeur te kry.

Hierdie omvattende protokolle is ontwerp vir die welstand van hul gaste en personeel en is reeds in Europa suksesvol geimplimenteer.

Gedurende laat Desember het MSC Cruises ’n aanboord inspeksie van die skip se streng en robuuste protokol aan die verskillende Suid-Afrikaanse outoriteite gedoen. Dit het die departemente van Vervoer, Gesondheid, Hawegesondheid, Binnelandse Sake en die Maritime Veiligheidsoutoriteit ingesluit.
Terwyl al die departemente tevrede was met die protokol en prosesse, het MSC Cruises steeds nie amptelike toestemming gekry om te vaar nie.

Ross Volk, besturende direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika, het gesê: “Ons is net so teleurgesteld soos ons gaste dat ons nie die Oppiwater Kunstefees kan aanbied in 2021 nie.

“Dit nadat ons daarin kon slaag om te demonstreer dat ons veilig kan vaar en die welvaart van ons gaste en personeel kon verseker met ons streng gesondheidsprotokolle. Ons het werklik ons beste gedoen om veilig in Suid-Afrika te kon vaar soos wat ons tans ook in Europa doen.

“Hierdie was ’n baie moeilike besluit om te neem omdat ons soveel belê het in ons beplanning vir die outoriteite om hulle analises te doen. Terwyl ons nou reeds maande wag vir die finale besluit, het die vertraging dit vir ons totaal onmoontlik gemaak om nog betyds alles reg te kry om professionele vaarte aan te bied.”

Ross het afgesluit deur te sê dat MSC Cruises egter baie positief is vir die 2021/22 seisoen.
“Ons is steeds daartoe verbind om die beste en veiligste vaartvakansie vir ons gaste aan te bied.”
Frans Swart, feesdirekteur van die Oppiwater Kunstefeeste, het gesê dat alhoewel hy en sy span baie teleurgesteld is in die feit dat Oppiwater nie in 2021 sal kan plaasvind nie, skaar hy hom totaal by MSC Cruises se finale besluit.

“Die regering se onvermoë om Covid-19 te bestuur, is weereens deur hierdie trae besluitneming en optrede van die regering geïllustreer. Ons was almal reg om in April lekker kunstefees aanboord die MSC Orchestra te hou.

“Die eerste Oppiwater was veronderstel om reeds in April 2020 plaas te vind. Toe het ons dit uitgestel na Januarie 2021 en toe weer na April 2021. Die regering besef glad nie hoeveel administrasie, tyd en finansies gemors word as gevolg van hulle onvermoë. ’n Oppiwater Kunstefees word nie sommer net in een dag gereël nie en kan ook nie sommer net in een dag ongedaan gemaak word nie.”

Swart het gesê hy het ongelooflik baie respek vir die feesgangers se geduld en verstaan van die situasie.

“Ons wil regtig vir al ons feesgangers baie dankie sê vir die manier waarop hulle ons huidige dilemma verstaan en ons ook die nodige ondersteuning bied. Net so wil ons baie dankie vir al die kunstenaars sê wat ook met soveel geduld en ondersteuning die proses ondersteun.”

Swart het gesê dat alhoewel almal teleurgesteld is in die uitstel van die Oppiwater Kunstefeeste, dit dalk in die lange duur beter gaan wees om in 2022 te vaar.

“Ek dink, hoop en bid dat die virus onder beheer sal wees in 2022 en dat ons feesgangers dalk volgende jaar baie meer gemaklik en gemoedelik en meer ontspanne op ons kunsskippie gaan vaar.”

Also Read: Video:: Performer at heart turns her chaos into art

   

Exit mobile version