Oos-Randse Sakevroue gereed vir 2021

Die Oosrandse Sakevroue se eerste vergadering vir die jaar sal op 14 April te Summer Place plaasvind

Oosrandse Sakevroue laat hulle nie deur ’n pandemie onderkry nie. Hulle is op terug en met ’n ander aanslag sodat geen entrepreneurskap in die slag bly nie.

Die vroue gaan voort woeker en na ’n lang gewag weer op 14 April te Summer Place ’n vergadering met ’n Valentynstema hou.

Volgens Karen Herbst, die voorsitter van die klub, is die sakevroue opgewonde en positief oor die jaar wat voorlê.

Veranderinge

Weens Covid-19 moes die sakevroue uit die boks dink om die voortbestaan van die klub te verseker.
“Die veilgheid van ons lede en gaste is belangrik en daarom is daar hierdie jaar ’n paar veranderinge by Oosrandse Sakevroue aangebring. Ons gaan hierdie jaar net vier funksies hou in plaas daarvan om elke maand bymekaar te kom. Op hierdie stadium gaan ons op 14 April, 9 Junie en 11 Augustus vergader. Die gala-funksie sal op 6 November plaasvind en ons kan dalk nog ’n aandfunksie reël waar die vroue se gades betrek sal word.

“Ons beplan om interessante sprekers te kry om met die vroue te kom gesels oor verskeie onderwerpe. Ons wil ook plekke soos Jenna Clifford Juweliers gaan besoek,” het sy vertel.

Karen het gesê dat Covid-19 ook ’n groot finansiële impak op die Oosrandse Sakevroue het.
“Ons het besluit om hierdie jaar nie ledegeld te vra nie omdat ons minder funksies gaan hou as gewoonlik. Daar is weens Covid-19 ook nou ’n beperkte aantal mense wat die vergaderings mag bywoon.
“Gelukkig is ons nou heel gemaklik daarmee om dinge anders te doen. Die pandemie het ons geleer hoe om anders te dink oor besigheid,” het sy bygevoeg.

Groei

Karen het verduidelik dat die Oosrandse Sakevroue bestuur die klub na hoër hoogtes wil neem.

“Ons wil die sakevroue graag uitbrei en nuwe lede werf. Daarom vra ons dat vroue die organisasie ondersteun. Die sakevroue se funksies is altyd ’n sukses en almal wat baat sal vind by ons funksies is welkom by ons vergaderings. Ons lede en hul gaste het verlede jaar se gala saam met Die Campbells geniet,” het die voorsitter gesê.

Die Oosrandse Sakevroue is ’n nie-winsgewende organisasie wat al vir ongeveer 19 jaar bestaan.

Ingrid Delport (ondervoorsitter), Tertia van Schalkwyk, Lorna Enslin en Antoinette du Toit is saam met Herbst deel van die komitee.

Vir meer inligting, kontak Karen by karen.herbst@sanlam4u.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version