Solidariteit Helpende Hand Boksburg ontvang welkome skenking vir skryfbehoefte-projek

Die doel van die skryfbehoefte-projek is om leerders te bemagtig

Solidariteit Helpende Hand Boksburg se versoek om skryfbehoeftes het nie op dowe ore geval nie.
Die Advertiser het vroeër berig dat die plaaslike Solidariteit Helpende Hand besig was om skryfbehoeftes in te samel vir minderbevoorregte kinders in die gemeenskap.
Alhoewel Solidariteit Helpende Hand ’n tassie aan Graad Eens verskaf, bestaan daar by leerders in die ander grade ’n ernstige behoefte aan skryfbehoeftes.
Inwoners van die Witfield Park Aftree-Oord het besluit om uit te reik nadat hulle die artikel oor Helpende Hand Boksburg se skryfbehoefte-projek in die Advertiser gelees het.
Volgens Elize Janse van Rensburg, leefstylkonsultant by die aftree-oord, het Trans-50 Witfield Park se kaartjiemaak groep R1 500 aan die plaaslike Helpende Hand se projek geskenk.

‘n Voorbeeld van die kaartjies wat Witfield Park Aftree-Oord se kaartjiemaak groep verkoop het om geld in te samel vir die skryfbehoefte-projek.

“Van ons inwoners het verlede jaar die groep gestig met die doel om kaartjies te maak en verkoop vir spesiale geleenthede soos Valentynsdag. Die wins van die kaartjies word dan aan liefdadigheid geskenk,” het sy verduidelik.
Voorsitter van die plaaslike Solidariteit Helpende Hand André Zeelie het die groep bedank vir die barmhartige gebaar.
“Solidariteit Helpende Hand Boksburg het groot waardering vir die aftree-oord en sy inwoners wat ’n skenking oorhandig het ten bate van ons skyfbehoefte-projek,” het die voorsitter gesê.
Om die plaaslike skryfbehoefte-projek te ondersteun, kontak André Zeelie by 060 550 6077.

Also Read: Solidariteit Helpende Hand Boksburg samel skryfbehoeftes in vir minderbevoorregtes

Also Read: Help Solidariteit Helpende Hand om behoeftiges te ondersteun

   

 
Exit mobile version