NewsSchools

Concordia spog met nuwe kleuterskool

Die skool het vier klasse en ‘n veeldoelsentrum aangebou

Laerskool Concordia spog nou met ‘n nuwe kleuterkampus op hul skoolterrein.
Die kleuterskool het vir die eerste keer op 18 Januarie sy deure vir kinders oopgemaak.
Volgens die skool se hoof, Charel Blignaut, is die kampus gebou nadat die Departement van Basiese Onderwys Concordia in kennis gestel het hul nie meer Nerine Kleuterskool gaan bestuur nie.
“Die onderwysdepartement het in 2018 Nerine Kleuterskool in Charl Cilliersstraat, Boskburg-Noord, aan Laerskool Concordia toegewys.
“Heelwat verbeteringe is aan die terrein aangebring. In 2020 het die departement ons egter ingelig dat Nerine nou deur Laerskool Goudrand bestuur sal word.
“Met die nuus het ons begin om ons eie kleuterskool te bou. Vanaf Januarie 2021 gaan ons die Graad R-klasse en een Graad-RR klas bestuur.
“Met die nuwe avontuur het ons dan ook Corrie (die skool se gelukbringer) se maatjie, Nerine, herdoop na Lilly,” het die hoof verduidelik.
Volgens Blignaut het die bou van die kleuterskool ongeveer ses maande geduur. Die skool het vier klasse en ‘n veeldoelsentrum aangebou. Daar is ook nou ‘n koffiewinkel, Koffieblik, op Concordia se perseel.

Een van die nuwe klasse by Laerskool Concordia.

Die hoof vertel dat die skool opgewonde is oor die nuwe kleuterskool.
“Dit is vir ons ‘n voorreg om die kleuterskool op ons terrein te huisves. Ek wil ook graag die gemeenskap bedank dat hul die projek ondersteun het.
“Ons vertrou dat Nerine, wat nou die Goue Welpies heet, van krag tot krag sal gaan onder leiding van Laerskool Goudrand se skoolhoof, Gert Botes,” het Blignaut bygevoeg.
Concordia se kleuterskool neem drie onderwysers en een algemene assistent van Nerine in diens by KleuterKampus.
“Tydens ons onderhandelinge met Goudrand, het hulle aangedui dat daar twee poste by Goudrand beskikbaar was. Die personeel wat dus nie poste het vir 2021 nie, is ‘n skeidingspakket aangebied deur Laerskool Concordia,” het die hoof gesê.
Die hoof het bygevoeg dat Concordia se kleuterskool oop sal wees totdat die regering aankondig dat kleuterskole moet sluit.
“Op hierdie stadium maak ons basies die kinders net gewoond aan die skool. Dit help ook ouers wat nou moet werk en nie ‘n heenkome vir hul kinders het nie. Alle Covid-19 regulasies word gevolg,” het hy vertel.

Laerskool Concordia se nuwe kleuterskool se veeldoelsentrum.

Lees Ook: Concordia se Graad Sewes is gereed vir die hoërskool

Lees Ook: Concordia kondig top presteerders aan

   

Related Articles

Back to top button