NewsSchools

Belinda Nel groet na 38 jaar in die onderwys

Sy beplan om haar aftrede saam met familie te spandeer

Na 38 jaar in die bedryf het Belinda Nel (72), onderwyseres van Laerskool Witfield se pre-primêre fase, besluit om die tuig neer te lê.
Dié jarelange graadhoof, wat sedert 2005 diep spore by Witfield getrap het, gaan aan die einde van die jaar aftree.
“Om al die jare betrokke te wees by die kleintjies was ’n gawe van God. Ek het elke sekonde in ’n voorskoolse klassie geniet. Dit is vir my baie hartseer om na al hierdie jare te groet, maar dit is nou tyd om die leisels aan die jonges oor te gee,” het die Impala Park-inwoner gesê.
Belinda het haar loopbaan in 1982 by Jan Groentjie Kleuterskool begin. Daarna het sy ook by Heidi Kleuterskool en Hansie en Grietjie skoolgehou.
Sy het op die ouderdom van 50 haar diploma in Grondslagfase-onderwys aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi.
“’n Mens is nooit te oud om te leer nie,” het sy vertel.
Die hoogtepunt van haar loopbaan is om te hoor dat dit goed gaan met leerders wat deur haar hande gegaan het.
Watter raad het sy aan die jonger-generasie onderwysers?
“Toon respek teenoor jou medemens en leer by die wat meer onderving as jy het,” het sy geantwoord.
Belinda beplan om haar aftrede saam met familie deur te bring en aflosposte te aanvaar as sy die geleentheid kry.
Poppie Malan, departementshoof van die grondslagfase by Witfield, het Belinda namens die skool bedank vir haar diens.
“Sy gaan ’n groot leemte by die skool laat. Belinda was al die jare betroubaar en paraat. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy het ook gesorg dat die minderbevoorregte kinders broodjies kry.
“Ons wens haar alle sterkte toe vir die toekoms,” het Poppie gesê.

Also Read: Nuwe adjunkhoof vir Laerskool Witfield

Related Articles

Back to top button