Geliefde onderwyseres ter ruste gelê

Lynette Nel word deur vriende en familie onthou as 'n “baie mooi vrou” wat nie geskroom het om ander te help nie

Familie, vriende en kollegas kon tydens ‘n gedenkdiens op 17 September te NG Kerk Springs-Noord finaal afskeid neem van die geliefde Afrikaanse-onderwyseres van Hoërskool Dr EG Jansen, Lynette Nel.

Ná haar gru-motorongeluk vroegoggend op 3 Oktober, 2019 en ’n maandelange herstelpad het sy op 27 Maart haar stryd verloor.

Weens die pandemie kon haar geliefdes eers ongeveer ses maande later ‘n gedenkdiens hou om haar lewe te vier.

Alle maatreëls is gevolg om die verspreiding van die virus te bekamp en daarom kon nie meer as 50 mense die diens bywoon nie.

Ds Liesl Nickols het die diens waargeneem en Lynette se susterskind, Charlene Roets, het ‘n kragtige huldeblyk gelewer.

“Vandag neem ons afskeid van Lynette, ‘n vrou, ‘n ma, ‘n dogter, ‘n sussie, ‘n tannie, ‘n vriendin en ‘n onderwyser. Alhoewel dit hartseer is om afskeid op aarde te neem, weet ons dat Lynette met blye verwelkoming in die hemele ontvang is.

“Alhoewel onderwys soms ‘n ondankbare beroep kan wees het Lynette geleef vir die verskil wat sy in ander se lewens kon maak. Die dankbaarheid wat soms getoon is, het wêrelde vir haar beteken. Ek wens sy kon die briewe en gedigte lees wat leerlinge vir haar geskryf het, wat soveel waardering vir haar gehad het,” het ‘n emosionele Roets gesê.

Haar dogter, Lené, het ook Antjie Krog se gedig, Ma, passievol en emosiebelaai voorgelees en aan haar ma opgedra.

“Hoe kan ek hierdie leemte in my hart verduidelik? Ek het ‘n stukkie van myself verloor en die idee dat jy nie meer hier is nie, los my steeds stom.

“Ek mis mamma ongelooflik baie – al jou stories en grappe. Jou aansteeklike lag wat die hele vertrek opgehelder het, is iets wat ek nooit sal vergeet nie en daagliks na verlang. Mamma het my gevorm, gelei en ondersteun,” lui Lené se huldeblyk.

Lynette seun, Dewald, het gesê dat alles wat hy het en is, is as gevolg van sy ma se opofferings.

Die diens is afgesluit met talle kosbare herinneringe van Lynette wat deur middel van ‘n skyfievertoning gedeel is.

Also Read: Onderwyseres van EG Jansen verloor stryd

Also Read: Laerskool Concordia rou na oud-skoolhoof sterf

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version