Plaaslike egpaar vier 60 jaar van geluk

Die paartjie het gesê dit is belangrik om nie verby mekaar te lewe nie

Na 60 jaar brand die liefdesvlam van egpaar Martie (78) en Jannie Buitendag (82) nog hoog.

Al voel dit vir hulle soos gister, het die paartjie van Bardene op 2 Julie, 1960, ewige trou aan mekaar beloof te Nederduitse Hervormde Kerk in Primrose.

 

Martie en Jannie het mekaar reeds van kindsbeen af geken aangesien hulle families vriende met mekaar was. Die liefde het in hoërskool begin blom. Vir Jannie was dit liefde met die eerste oogopslag.

“Ek het dadelik geweet dat sy die vrou vir my is,” het hy verduidelik.

Martie vertel dat sy nooit haar troudag sal vergeet nie. Jannie was in sy jonger dae ‘n algemene bestuurder en Martie was in die administratiewe bedryf. Die paartjie het ongeveer vyf jaar na hul troue van Germiston na Boksburg toe verhuis.

LEES OOK:

Egpaar vier vyf dekades van liefde

Vir die paartjie is hul seun, Bertie (55), wat tans in Nieu-Seeland woon, twee kleinkinders en agterkleinkind die beste ding wat uit hul huwelik gekom het.

Ouma Martie kan nie uitgepraat raak oor hoe slim haar agterkleinkind is nie.

Om die egpaar se diamant-huweliksherdenking te vier, het hul ‘n rustige aand by die huis geniet.

“Ons is maar versigtig met die nuwe koronavirus, so ons sal nie onnodig uitgaan nie. Gelukkig het ons gesorg dat daar lekker kos en poeding was,” het Martie gesê.

Die paartjie se resep tot ‘n gelukkige huwelik is om nie verby mekaar te lewe nie en om alles saam te doen.

“Nie een ry met die kar sonder dat die ander een nie saam is nie,” het Jannie vertel.

Martie en Jannie is nog albei jonk van gees. Hul hou daarvan om saam televisie te kyk en is lief daarvoor om te gaan toer.

“Ons is baie dankbaar en voel geseënd dat ons vir 60 jaar gelukkig getroud kan wees. Ons het nou basies net mekaar oor aangesien meeste van ons familielede al oorlede is,” het Jannie gesê.

LEES OOK: 

Plaaslike paartjie vier 60 jaar van ’n gelukkige huwelik

Exit mobile version