Settstraat gesin verloor alles in huisbrand

Ongelukkig kon twee van die gesin se hondjies en kokketiel nie uit die brandende huis gered word nie

Ten spyte van die verlies van haar huis, besittings en twee geliefde honde in ‘n huisbrand op 20 Julie, glo Renette Malherbe (57) steeds die Here het Sy hand van beskerming oor haar gesin gehou.

Sy het gedink dit is ondekbaar toe haar huishulp omtrent 7.40vm aan haar verduidelik dat haar huis in Settstraat vlamgevat het.

“Ek was nog skaars by die skool toe ek die oproep van my huiswerker ontvang. Sy het vir my gesê dat my huis besig is om af te brand. Ek het vir ‘n sekonde gedink sy is besig om te grap. Sy was so histeries dat dit geklink het of sy lag. Toe sê ek nog vir haar dat sy nie sulke grappe moet maak nie. Alles het vir my so onmoontlik en ondenkbaar geklink,” het sy gesê, steeds geskok oor die traumatiese gebeurtenis.

https://www.youtube.com/watch?v=cPnxpUyUBVQ

LEES OOK:

Watch: Youngsters recall brave house fire rescue

Sy het na die oproep onmiddelik in haar kar geklim en huis toe gejaag. Met haar aankoms het bolle rook reeds by die huis uitgedam en haar seun was buite. Haar man, Gerrie (75), het soos gewoonlik met sy hondjie gaan stap en haar jongste seun was nog tuis toe die brand in die hoofslaapkamer uitgebreek het.

“My seun het nog in een van die kamers gelê en slaap omdat hy op hierdie stadium nog van die huis af werk,” het sy bygevoeg.

Malherbe se seun het aan haar vertel dat hy wakker geword het en kon betyds uit die huis ontsnap.

“Ons kon nog nie presies vasstel wat die brand veroorsaak het nie, maar ons is dankbaar dat hy betyds uit die kamer uit kon kom,” het sy aan die Advertiser verduidelik.

Ongelukkig kon twee van die gesin se hondjies en kokketiel nie uit die brandende huis gered word nie.

“Ons twee baba-hondjies het nog in die kamer gelê en ons kon nie by hul uitkom nie. Die rook was net te veel. My hart is so seer,” het sy met trane in haar oë vertel.

Daarna is die brandweer ontbied.

“Hulle het ongeveer 45 minute later by die toneel opgedaag en het vir twee ure verwoed probeer om die brand te blus. Later het nog brandweerwaens kom help,” het sy gesê.

Sy het gesê die huis het onherstelbare skade opgedoen en gaan moontlik gesloop moet word.

“Toe ons uiteindelik in die huis kon ingaan was daar net ‘n hoop as. Die hondjies is ook gevind en hul het blykbaar versmoor voordat hul verbrand het. Ons het alles verloor, selfs ons bed en klere. Op hierdie stadium woon ons by my dogter.”

Sy beklemtoon dat dit vir haar wonderlik is dat haar houtkruis wat op die sitkamer se vloer staan niks oorgekom het nie.

“Daardie kruis het nie gebrand nie, al is dit van hout gemaak. Ek glo die Here se hand was steeds hier by ons en ek is dankbaar dat my gesin nou veilig is,” het sy uitgewys.

Intussen het die Boksburg gemeensksap besluit om die gesin by te staan en die Malherbes bedank almal vir hulle ondersteuning. Die gesin het steeds fondse en skenkings van die publiek af nodig om hul deur hierdie moeilike tyd te dra.

Indien iemand bereid is om die gesin by te staan kan Deidre by 082 452 8190 gekontak word.

Ekurhuleni-nooddienste ondersoek die brand en sal kommentaar lewer sodra hul oor al die nodige inligting beskik.

LEES OOK: 

Donate a winter clothing item, food to Round Table Winter Knights

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version