VIDEO: Concordia samel 101 eenhede bloed in

'n Totaal van 101 eenhede bloed is ingesamel

Laerskool Concordia het die afgelope week ‘n verskil gemaak deur druppel vir druppel bloed terug te gee aan die gemeenskap.

Die spogskool het op 1, 2 en 3 Julie in hul parkeeraera bloed ingesamel om die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se bloedvoorraad te help aanvul te midde van die Covid-19 pandemie.

Ronel Steenkamp, die skakelbeampte van Concodia, het verduidelik dat hulle ?n totaal van 101 eenhede bloed oor die drie dae ingesamel het.

LEES OOK: 

Laerskool Concordia breek hulle eie rekord van die meeste eenhede bloed geskenk

“Ons het in die Boksburg Advertiser gelees dat daar weens die pandemie ‘n tekort aan bloedskenkings is. Die skool het toe onmiddelik aan ‘n kreatiewe manier gedink om hulle by te staan aangesien ons nie nog nie ons groot bloedskenkdag kon hou nie.

“Mense is op hierdie stadium bang om bloed te skenk, maar elke druppel help tog. Daarom is ons dankbaar vir almal in die gemeenskap wat bloed kom skenk het. Dit kos jou niks, maar dit maak ‘n groot verskil as mens bloed skenk. Dit is veilig en al die nodige voorsorgmaatreëls is in plek om skenkers en die bloedbank se personeel teen die virus te beskerm,” het Steenkamp gesê.

Sy het beklemtoon dat hulle daarna streef om elke maand bloed vir die bloedbank in te samel en dat hulle alles in hul vermoë gaan doen om hul jaarlikse bloedskenkdag ‘n realiteit te maak.

Concordia het verlede jaar hulle eie Suid-Afrikaanse rekord van die meeste bloed wat binne 12 ure geskenk word vanaf 258 eenhede na 516 eenhede verdubbel.

Charel Blignaut, die hoof van die skool, het gesê dat die bloedbank werklik bloed nodig het en het skole in die omgewing uitgedaag om dieselfde te doen.

Trude Gareekoe van die nasionale bloedbank het die inisiatief as ‘n sukses beskryf en het Laerskool Concordia bedank vir hulle ondersteuning.

“Hulle stel ons nou in staat om ongeveer 303 lewens te red. Met die aantal positiewe gevalle en ongelukke wat toeneem noudat meer mense weer mag werk, gaan dit woes in hospitale. Elke druppel bloed maak ‘n verskil en ons is dankbaar dat ons ‘n hegte verhouding met Concordia het. Hulle help ons altyd waar hulle kan.

“Op die oomblik is baie besighede nog gesluit en baie mense werk nog van die huis af en dit het ‘n groot invloed op die aantal bloedskenkings wat ons ontvang. As ons nie nou iets doen om bloed in te samel nie gaan ons binnekort met nog ‘n krisis sit, en ons kan dit nie bekostig nie,” het Trude gewaarsku.

Sy het ook bygevoeg dat dit veilig is en dat dit belangrik is dat mense gereeld kom bloed skenk.

Die gemeenskap word ook aangemoedig om bloed te skenk by die bloedbank se fasiliteite by die East Rand Mall.

LEES OOK: 

#DonateBloodToday: SANBS partners with Facebook to boost donations

 

 

Exit mobile version