Boksburg gereed vir heropening van skole

Dit blyk of meeste skole in Boksburg slaggerreed is om die eerste groep leerders agter die skoolbanke terug te verwelkom

Die Advertiser het Hoërskool Oosterlig, Hoërskool Voortrekker en Laerskool Baanbreker besoek toe meeste onderwysers op 26 Mei teruggekeer het skool toe om voor te berei vir die ontvangs van leerders

Hoërskool Oosterlig

Francios Nel, hoof van Hoërskool Oosterlig, sê dat die skool se bestuur en onderwysers hard aan die werk is om voor te berei vir die heropening van skole.

Die hele skool is ongeveer twee weke terug onstmet en is gereed om leerders te ontvang wat volgende week agter die skoolbanke mag inskuif.

“Ons het die nodige beskermende toerusting vir onderwysers en leerders. Onderwysers en leerders het ‘n masker vir elke dag van die week. Op Maandae moet almal grys maskers dra. Dinsdae dra ons rooi, Woensdae blou, Donderdae swart en Vrydae geel. Geen leerder word op die perseel toegelaat sonder ‘n masker nie,” het Nel gesê.

Die skool sal leerders en onderwysers se temperatuur meet en hul hande sal ontsmet word voordat hul die skoolterrein betree. Hul temperatuur sal ook by ‘n volgende hek biometries gemeet word voordat hul klasse toe gaan.

Daar is ook oor die 14 ontsemttingsmiddelspunte rondom die skool opgestel.

Oudskoliere, soos Dean van den Berg en André Klopper, het ook vir ons oor die 60 dispensers met handreinigers geinstalleer.

“Daar is nou reiniger in elke klas en die skool waardeer hulle ondersteuning,” het die hoof bygevoeg.

Die skool neem ook die kwessie van ‘n veilige sosiale afstand ernstig op.

Elke onderwyser het ook ‘n geskenkpakkie met vrugtesap, lekkers en koeldrank ontvang om hul terug te verwelkom.

Mauriet Koekemoer, ‘n departementshoof van die skool, het vertel dat dit vir haar lekker was om haar kollegas te sien en dat sy nie kan wag om die leerders weer te sien nie.

Nog ‘n onderwyser, Yolanda Pretorius, het gesê dat sy effens benoud was om terug te keer skool toe, maar dat dit tog geniet om haar kollegas te sien.

Hoërskool Voortrekker

Gerhard Joubert, adjunkhoof van Hoërskool Voortrekker, glo vas dat die skool reg is om leerders terug te verwelkom.

Al die skool se onderwysers het die nodige beskermende toerusting van die beheerliggaam ontvang om op 25 Mei weer vir diens aan te meld.

“Ons wag nog vir die nodige toerusting van die departement af, maar ons skool se matrikulante en onderwysers het ‘n masker en gesigskerm en reiniger ontvang. Hulle veiligheid is vir ons ‘n prioriteit,” het die adjunkhoof vertel. “Elke leerder en onderwyser se temperatuur sal gemeet word voordat hulle die gebou betree en sal drie keer per dag gemeet word. Daar is verder ‘n isolasiekamer in die skool voorberei indien ‘n leerder sou olik raak.

“Die skool is ook onlangs professioneel gereinig en daar is stasies met reiniger rondom die skool geinstalleer. Daar sal ook ‘n rol toiletpapier op elke matrikulant se lessenaar geplaas word om te verhoed dat leerders onnodig rondloop. Leerders word ook verplig om hul lessenaar te reinig voor en na hul dit gebruik het,” het hy bygevoeg.

Die personeelkamer en klaskamers wat gebruik gaan word, is ook so ingerig dat personeel en leerders ‘n veilige afstand kan handhaaf. Die veilige afstand word ook in die skool met plakkers aangedui.

“Ons is opgelei oor hoe om die situasie te monitor en wat veilig is, dus kan ons nie wag om die leerders terug te verwelkom nie.”

Laerskool Baanbreker

Die skool wag nog vir die nodige beskermende toerusting van die departement af voodat al hul onderwysers sal kan terugkeer skool toe.

Op 26 Mei was net die bestuurspan by die skool om voor te berei vir die leerders se terugkoms.

“Ons hoop dat ons binne die volgende twee dae al die toerusting van die departement sal ontvang en ek glo dat ons gereed sal wees vir die leerders,” het hoof Tom Hoffmann verduidelik.

Die bestuur se temperatuur word daagliks gemeet en daar is stasies met reinigers rondom die skool geinstalleer.

“Veiligheid is vir ons belangrik en ons doen alles wat moontlik is om leerders en personeel veilig te hou.”

LEES OOK: 

Valentynskoors loop hoog by die plaaslike skole

LEES OOK: 

Oosterlig se aanlynskool stimuleer leerders akademies

Exit mobile version