Ondersteun Helpende Hand om behoeftiges te help

Die organisasie se doelwit is om die kringloop van armoede te verbreek deur kinders opleiding te bied sodat hulle selfsorgende volwassenes met ’n roeping in die lewe kan wees.

Solidariteit Helpende Hand is dringend op soek na skenkings nadat president Cyril Ramaphosa Maandagaand aangekondig het dat Suid-Afrika effektief van 26 Maart om middernag tot middernag op 16 April in ’n staat van inperking sal wees.

Donasies in die vorm van fondse word veral verwelkom aangesien dit nou moeiliker is vir hulle om skenkings te ontvang weens dié maatreëls wat ingestel is om die koronavirus te bekamp.

Alida Reed van die plaaslike tak het vertel dat die tak hul bes gaan probeer om voort te gaan met hul voedingskema tydens die moeilike tyd.

“Daar is ’n groot behoefte aangesien talle mense afhanklik is van hierdie skenkings,” het sy verduidelik.

Donasies in die vorm van klere en voedsel is ook altyd welkom.

Sy het inwoners ook aangemoedig om bruikbare items waarvan hul ontslae wil raak aan Helpende Hand Boksburg skenk wanneer inperking verby is.

“Indien mense tydens die inperking bruikbare items bymekaar maak wat hul nie meer wil gebruik nie, is hul welkom om dit aan die plaaslike tak te skenk. Dit word altyd waardeer,” het Alida gesê.

Solidariteit Helpende Hand is ’n nie-winsgewende organisasie wat veral betrokke is by behoeftige skole, ouetehuise, individuele gesinne en wit plakkerskampe.

Kontak Alida op 082 228 3552 of Amanda op 083 399 1688 vir meer inligting.

Exit mobile version