Valentynskoors loop hoog by die plaaslike skole

Van Concordia se leerders het ook geskenkies vir die dag van liefde gekry terwyl ander leerlinge gevoel het dat hulle nog te jonk vir ’n Valentyn is.

Valentynsdag, wat op 14 Februarie gevier word is ’n dag waarop geliefdes ekstra aandag aan mekaar gee deur geskenke, blomme of kaartjies uit te ruil.

Op hierdie dag was liefde behoorlik in die lug by Laerskool Concordia.

Megan Griessel, ’n onderwyser van die skool kon haar oë nie glo toe haar kêrel, Thomas Ferreira, se vriend Clive Retief ’n Valentynsdag-bederf namens Ferreira by haar klas vol kinders kom aflewer het nie.

Thomas het spesiaal sy meisie met sjokolade, ’n pragtige teddiebeer en natuurlik ’n groot bos blomme verras.

“Ek het glad nie verwag dat hy dit vir my gaan doen nie, maar ek is mal oor my geskenke. Ek dink dit is baie oulik,” vertel ’n blosende Megan aan die Advertiser.

Sy sê dat sy en Thomas, wat nou amper drie jaar saam is, elke jaar probeer om iets klein te doen om die dag van liefde te vier.

“Ek het vir hom ’n beker met sjokolade op die spesiale dag gegee,” verduidelik sy.

Volgens Clive het hy en Thomas mekaar se meisies se Valentynsdag-geskenke vir hulle gaan gee.

By Hoërskool Dr EG Jansen was daar ook ballonne, blomme en rose net waar jy kyk om die dag te vier.

Daar was pouse ook heerlike pizzas en pannekoek op die aantreeblad verkoop.

’n Leerder wat met die pizza verkope gehelp het, Theandri Smit, het verduidelik dat die verkoop van die lekkernye ten bate van die jaar se matriekafskeid is.

Exit mobile version