Local newsNews

Saries leer hoe om vreesloos mooi te wees

Dit was soos gewoonlik ’n spoggeleentheid met gaste wat aan ’n driegang-maaltyd kon smul.

Die Sarie Klub het 2020 in styl verwelkom toe hulle vir die eerste vergadering te De Bron Wedding & Conference Venue byeengekom het.

Lede en gaste het van die vergadering gebruik gemaak om mekaar beter te leer ken en lief en leed is gedeel. Daar was onder andere oor aktuele sake in Suid-Afrika gesels.

Die dinamiese Sandra D Taljaard het die Saries by die geleentheid toegespreek en het haar kennis oor modes met die Saries onder die tema “Vreesloos Mooi” gedeel.

Sandra is die stigter van Style Challenge International en is ’n publieke figuur met jare se plaaslike en internasionale ervaring. Sy is ’n spesialis voorkomskonsultant en ’n motiveringspreker.

Sandra bied ook binnekort ’n nuwe TV-reeks aan, Vreesloos Mooi.

Die modekenner het waardevolle wenke, advies en ’n paar interessante feite oor onder andere hare, klere en skoene gedeel.

Sandra het aan die Saries verduidelik dat grys hare in die mode is en dat dit veral mooi kan lyk as dit gepaard gaan met ’n moderne haarstyl.

Die interessante feit oor skoene wat sy gedeel het was dat mans eerste hoë hakke gedra het om meer manlik te vertoon. Sy het bygevoeg dat mans eerste pienk gedra het en vrouens blou.

Sandra het die Saries aangemoedig om hierdie winter van bykomstighede soos hoede en serpe gebruik te maak aangesien dit ’n eenvoudige uitrusting ’n interessante afwerking kan gee.

Verder het Sandra die gaste aangemoedig om te waag en om vreesloos mooi te wees.

“Jy is mooi, want jy is die dogter van ’n koning,” het die spreker gesê.

Die Sarie Klub is ’n groep vroue wat vir mekaar omgee en eenmaal ’n maand bymekaar kom.

Kontak Susan Noppe by 083 268 7245 of stuur ’n e-pos na noppe@worldonline.co.za om deel te word van die Sarie Klub.

 

Related Articles

Back to top button