Paartjie bewys ‘n mens is nooit te oud om te trou nie

Die spesiale dag het by die Volle Evangelie Kerk in Boksburg-Noord plaasgevind.

Die liefde het geen ouderdomsbeperking nie.

Dit is weer bewys toe Nick van der Westhuizen (87) en Cecilia Benzien (77) na ’n verhouding van vier jaar uiteindelik in Desember die knoop in Boksburg deurgehaak het.

“Die troue was vir ons baie spesiaal. Ons het die dag geniet en het dit waardeer dat ons familie en vriende daar kon wees om in ons vreugde te deel,” het Cecilia gesê.

“Op hierdie stadium geniet ons elke oomblik van die getroude lewe. Ons kyk nie ’n dag terug nie en is nog so verlief soos die dag toe ons begin uitgaan het. Dit is ook lekker om geselskap te hê.”

Nick en Cecilia het mekaar meer as 10 jaar gelede by die Strelitzia-dienssentrum in Boksburg-Noord ontmoet wat verlede jaar sy deure gesluit het.

By die dienssentrum het hulle bevriend geraak en was albei nog op daardie stadium getroud gewees.

Die paartjie het begin dans en gesels toe hulle altwee weer enkellopend was. Kort voor lank het die liefdesvlam hoog gebrand.

“Nadat ek my vorige vrou aan die dood afgestaan het, het ek vir Cecilia gevra om my maat te wees. Ek was alleen en wou iemand, as ’n vriend, saam my na plekke toe neem. Toe word ek verlief op haar. Sy is dan so ’n oulike mens,” vertel Nick.

Nick sê die rede waarom hulle so lank gewag het om te trou is omdat Cecilia nog tot verlede jaar nog verpligtinge teenoor haar kleinkinders gehad het.

“Ek het ook te oud gevoel om te trou, maar Cecilia het gesê dat dit nie so is nie en dat sy graag met my sal wil trou. Toe besef ek dat daar eintlik niks is wat ons keer nie.”

Hy voeg ook by dat hulle baie in gemeen het en dat hulle onder andere albei ’n liefde vir dans, rolbal en hengel het.

Albei straal toe hulle vertel dat hulle binnekort vertrek na ’n wildsreservaat vir hul wittebrood.

Volgens Cecilia is ’n mens nooit te oud om te trou nie.

Exit mobile version