CrimeNews

Afriforum stig buurtwag in Boksburg

AfriForum buurtwagte fokus op die lede van die gemeenskap en reageer en help waar daar nood is.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n onlangs ’n buurtwag in Boksburg gestig.

Dit is nadat verskeie gemeenskapslede die behoefte aan ’n AfriForum tak en AfriForum buurtwag uitgespreek het om sodoende die voortslepende munisipale probleme en die hoë misdaadvlak in dié dorp te takel.

AfriForum buurtwag is ’n entiteit op sy eie wat fokus op samewerking in alle areas.

“Ons beoog om alle rolspelers bymekaar te kry wat ’n belang het in die veiligheid van die gemeenskap en om saam te werk. Dit sluit ook die GPF in,” sê Marie Naudé, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“As die gemeenskap in geheel saamstaan kan hulle ’n daadwerklike inpak hê op die afname in misdaad.

“AfriForum buurtwagte fokus om die oë en ore van die SAPD te wees. Die SAPD het ’n tekort aan hulpbronne en daarom moet gemeenskappe saamstaan en verantwoordelikheid neem vir hulle eie veiligheid en om te help om misdaad te bekamp in samewerking met die SAPD en ander instansies.

“Van die primêre rolle van AfriForum se buurtwagte is om te fokus op sigbaarheidspatrollies vir bewusmaking ten einde die kriminele te ontsê van die gebied, om proaktief op te tree deur inligting in te samel en daarvolgens inligtingsgedrewe patrollies te ry.

“Ons het suksesse gesien in verskeie areas waar buurtwagte net hulle sigbaarheidspatrollies aangepas het volgens die gebied se inligting. Dit het ’n drastiese daling in misdaad tot gevolg gehad.

“’n Bevolkingstudie deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het gewys dat Boksburg een van Gauteng se ankerdorpe is en dus ’n belangrike gebied is om in te belê.”

Volgens Naudé hoef jy nie ’n lid van AfriForum te wees om van die buurtwag se dienste gebruik te maak nie .

Lede van die publiek kan ’n e-pos stuur aan marie.naude@afriforum.co.za of ’n WhatsApp boodskap stuur aan 081 217 8579 vir meer inligting of om betrokke te raak.

Related Articles

Back to top button