NewsSchools

Nuwe adjunkhoof vir Laerskool Witfield

Jan Erasmus wil graag die boodskap oordra dat mens baie kan vermag met harde werk, ongeag jou omstandighede.

As leerling tot ervare onderwyser het Jan Erasmus diep spore by Laerskool Witfield getrap.

Nou is hy terug op tuisbodem en is gereed om adjunkhoof van die skool te wees.

Erasmus het homself by die destydse Goudstad Onderwyskollege as onderwyser bekwaam.

Daarna het hy sy onderwysloopbaan amptelik in 1991 by Laerskool Witfield afgeskop. Hy het byna 17 jaar by die skool skoolgehou voordat hy die onderswys tydelik vir die privaatsektor verruil het.

Na ’n afwesigheid van ongeveer twee jaar het hy weer by Witfield skoolgehou tot hy bevordering gekry het by Laerskool Die Arend.

Die vakke wat hy aanbied is Afrikaans, maar hy spits hom deesdae meer op wiskunde toe.

Erasmus het ’n sagte plek vir sport en is betrokke by die afrigting van rugby, krieket en atletiek. Hy het veral ’n passie vir krieket en is ook self ’n gedugte speler wat die sport op provinsiale vlak beoefen het.

Volgens Erasmus is hy opgewonde oor die nuwe uitdaging om die adjunkhoof en hoof van dissipline te wees.

“Ek voel opgewonde oor die uitdaging wat nou oor my pad gekom het en glo ek sal lekker saam met die personeel werk om ’n verskil by die skool te maak. Ek sien ook uit daarna om die leerders te leer wat ek alles hier geleer het,” vertel Erasmus.

Sy doelwit as adjunkhoof is om die skool van krag tot krag te laat gaan en die hoof by te staan in al die fasiliteite van die skool.

“Dit is ook vir my belangrik om ’n goeie verhouding met die jonger geslag op te bou sodat hulle my kan vertrou sodat ek hulle kan bystaan en ondersteun.”

Erasmus se visie vir die skool is om meer geleenthede vir die leerders te skep om vir hulle die kans te gee om hul volle potensiaal te bereik. Hy is reeds besig om ondersoek in te stel oor watter buitemuurse aktiwiteite die skool nog kan aanbied.

“Nie almal is rugby- of netbalspelers nie. Ek wil hê die leerders moet hulself kan uitleef, hetsy dit op sport of kulturele gebied is.”

 

Related Articles

Back to top button