Ria van Wyk vier 60 jaar in die musiekbedryf

Die Advertiser het gaan uitvind hoe die kanniedood steeds die mas opkom.

Ria van Wyk van Boksburg het ’n passie vir musiek en al lyk dit nie so nie, is sy al 60 jaar in die musiekbedryf.

V: Jy was ’n posmeester voordat jy die musiekbedryf betree het. Wat het na die loopbaanskuif gelei en was dit die moeite werd?

A: Ek was posmeester op Deneysville. Daar het ek begin om op troues en in kerke te sing. Ek het ook op my eie troue gesing.

V: Nou is jy al ’n allemintige sestig jaar in die bedryf. Waar het jou liefde vir musiek begin?

A: Lank gelede het ek vir ’n kompetisie ingeskryf, aangebied deur Vaaldam Hotel. Ek was die wenner en daar het die passie vir musiek ontstaan. Dit was die begin en ek het Musiek Teorie by Trinity College studeer. Ek was later verplaas na die hoof poskantoor in Vereeniging.

Ek het begin musiekklasse aanbied vir 16 leerlinge en dit was ’n groot sukses. Ek het ook my eie orkes, Star Dust, gestig waar ek op skoue en baie ander funksies opgetree het. Daardie jare, in die laat 70’s, was ek ook die bestuurder van Transvaal Music Vereeniging en later verplaas na Broadway Music JHB.

V: Watter een van jou vele prestasies lê jou na aan die hart?

A: Al my sukses en prestasies lê na aan die hart. Dit het daartoe gelei dat ek ’n groot begeerte en behoefte het om sangers te help. Ek het oor ’n tydperk van baie jare 48 konserte gehou om fondse in te samel vir behoeftige sangers en mense in nood.

Vandag wil ek steeds jong talent ontwikkel. Om die rede het ek ’n kometisie van stapel gestuur wat aangebied gaan word by Die Watergat in Witfield op Sondae middae. Die kompetisie begin op 11 November. Sound Blast Studio se eienaar, Kobus Geldenhuys, borg die eerste drie wenners.

V: Noem van die hoogtepunte?

A: Toe ek die Hotel Montego Ranch in Henley on Klip gekoop het om met groot konserte te begin. Daar het ek Bles Bridges ontmoet en hy was my aanbieder vir bykans twee jaar.

Daar is hy ontdek en tot een van die land se beste sangers gevestig. Ek het saam met top kunstenaars soos Lance James, Eugene Havenga, Clive Bruce Lee Magnum, Clive Bruce Jody Wayne. Barbara Ray, Sally Vaughan, Hennie Smit, Eddie Eksteen, Dennis The Cat en baie ander sangers en oom Dana Niehaus opgetree.

Dit was die beste jare ooit; dit was in die 80’s. In 2010 het ek en Bles ’n resiesperd “Red Hot” saam gekoop en was geseën met sy eerste plekke. Drie maande na Bles se dood het ons die perd verkoop.

Ek het ook in sepies soos Genrations, Egoli en 7de Laan as ’n ekstra gewerk. Ek het ook die Plascon Avertensie op televisie gedoen.

V: Moes jy baie reis?

A: Ek het deur die land gereis vir optredes., sangers ontmoet en baie musiekliefhebbers wat my en die orkes gevolg het na vertonings.

V: Glo jy dat jy in die regte era leef as musikant of sou jy dit anders wou hê?

A:Die trent van die musiekedryf tans het verander. Die mark is oorversadig met sangers wat dit ongelukkig nie maak tot op ’n professionele vlak nie.

V: Jy het al onder andere met groot name soos Bles Bridges gewerk en is onder andere ’n agent vir Ray Dylan. Is daar ’n kunstenaar wat vir jou uitstaan?

A: Kunstenaars wat ek bemark tans is Manie Jackson, Ray Dylan, Nicholis Louw, Lance James, Snotkop, Eugene Havenga, Marli Swann, Judith Kea, Cole van Daiz en Gian Franco.

V: As jy ’n ete saam met een kunstenaar kan hê, wie sou dit wees?

A: Joe Black. Ek het hom nog nie ontmoet nie.

Exit mobile version