Laerskool Concordia breek hulle eie rekord van die meeste eenhede bloed geskenk

Hierdie rekord is nie net ’n nuwe rekord vir Boksburg nie, maar ook ’n nuwe rekord vir Suid-Afrika vir die meeste eenhede ingesamel op een perseel.

Dit het dalk bloedsweet gekos, maar Laerskool Concordia het onlangs hulle eie rekord van die meeste eenhede bloed wat binne 12 ure geskenk word vanaf 258 eenhede na 516 eenhede verdubbel.

Die inisiatief is van stapel gestuur met die doel om ’n moontlike bloedtekort tydens die vakansietyd te verhoed.

Toe die groot dag op 15 Oktober aanbreek, het die SANBS span douvoordag, gerat met beddens, naalde, sap en koekies om die skenkers by te staan, by die skool opgedaag.

Daar het ’n vrolike stemming geheers terwyl die organiseerders vol hoop toegekyk het hoe die gemeenskap instroom om deel te word van hierdie suksesvolle dag. Die beheerliggaam, onderwysers en selfs die bome was in rooi geklee om hulle steun te gee.

Die wete dat hulle lewens kan red het die benoude skenkers, wat bang was vir ’n dik naald, laat deurdruk.

Alyssa Trahms (hoofmeisie 2020) en Marco Venter (hoofseun 2020) van Hoërskool Dr EG Jansen het ook by Laerskool Concordia bloed geskenk.

Daar was ’n konstante vloei van skenkers wat die skool se saal van 7vm tot 7nm volgesit het.

Ten spyte van die die feit dat leerders van Concordia self te jonk is om bloed te skenk, het hulle dié dag ook deel van die dag se opwinding gemaak. Die leerders kon aan ’n selfie kompetisie deelneem waar hulle saam met die nasionale bloedbank se gelukbringer, Blood Buddy, ’n selfie geneem het om dit op sosiale media te plaas.

Ekurhuleni FM het op die dag regstreeks vanaf die skool uitgesaai om die publiek op hoogte te hou en het ook van die geleentheid gebruik gemaak om met Deon van der Merwe en Dusty Dixon van Touch of Class te gesels. Die groep het self ook hulle deel vir die gemeenskap gedoen deur bloed te skenk.

Atlas Vermaak van Witfield, wat verlede jaar sy 100ste skenking by Concordia gemaak het, het ook weer hierdie jaar by die skool bloed geskenk.

Christa Delport by Laerskool Concordia saam met die nasionale bloedbank se gelukbringer, Blood Buddy, nadat sy bloed geskenk het.

Volgens Ronel Steenkamp, die organiseerder van die projek, is dit fantasties. “Ons is heeltemal uit ons velle oor hierdie massiewe poging om lewens te red, wat ’n sukses was.

“Die hele idee het in my kop ontstaan toe ek eendag besig was om bloed te skenk. Ek het besef dat ek bloed skenk omdat my ouers bloed skenk. En hoe anders gaan ons in die toekoms aan die toenemende aanvraag na bloed kan voorsien as ons nie ons jongmense aan bloedskenk blootstel nie?

“Kinders onder 16 kan nog nie self skenk nie, maar Bloed Buddy het die Concordia leerders so opgewonde gehad dat hulle ma’s, pa’s, oumas, oupas, familie en vriende van heinde en verre laat kom het om te kom bloed skenk.

“Dit was natuurlik met die hoop dat hul klas ’n partytjie saam die Bloed Buddy gaan losslaan as hul die meeste skenkers kon werf.

“So het ons nie net lewens gered nie, maar ons het ons as gemeenskap hande gevat. Ons leer ons kinders van vroegs af dat selfs al het jy niks om te gee nie, kan jy iets van jouself gee,” vertel ’n trotse Ronel.

Ronel Steenkamp (organiseerder), Ds Barry Fourie, Martinus Claassen (adjunkhoof), Trude Gaarekoe (SANBS), Charel (hoof) en Yolanda Blignaut is gereed om bloed te skenk.

Sy sê dat hulle in 2020 gaan poog om weer eens hul eie SA bloedskenk rekord te breek. Hulle gaan ook probeer om die 516 eenhede te verdubbel.

“Die ouers en gemeenskap het vir ons gewys dat ons kan hande vat en saamstaan om lewens te help red. EG Jansen het ook saam met ons gestaan en hoe hartroerend was dit nie om te sien hoeveel EG leerders kom bloed skenk het nie.

“Ons salueer elke skenker, ondersteuner en werker. En ons is verseker in 2020 terug met nog ’n groter poging as hierdie jaar.”

Atlas Vermaak gereed om sy 101ste eenheid bloed te skenk.

Daar sal ook nou op ’n gereelde basis ’n bloedskenkdag by die skool gehou word ter aanloop tot hul volgende poging.

“Dink groot, dink uit jou hart uit, want dan maak jy ’n verskil. Daar is geen plaasvervanger vir bloed nie. Geen fabriek kan bloed vervaardig nie. Bloed is lewe, so skenk bloed en red ’n lewe.”

LEES OOK: Video: Rekord van 258 eenhede bloed by Concordia op een dag

 

Exit mobile version