Geniet samesyn en eengesindheid by Hoeksteen Gemeente kermis

Die dag beloof om groot pret te wees met verskeie aktiwiteite, insluitende stalletjies, speletjies en opvoerings deur sangers Tania Strauss en Johan Anker.

Hoeksteen Gemeente in Boksburg-Noord gaan lente 2019 met die Kom Soos Jy Is Kermis op 31 Augustus by die Boksburg-Noord Tennisklub en Strelitzia Dienssentrum persele in Championstraat vanaf 8vm tot 2nm afskop.

Vir die kinders gaan daar baie wees om te doen, soos springkastele, speletjies, films en tekenprent karakters wat hulle kan vermaak (en natuurlik so een of twee lekkers wat ’n glimlag op hulle gesig kan sit).

Die stalletjies sluit in:

• ’n Kuierhoekie waar mense eet- en drinkgoed, soos pannekoek, warm drankies soos koffie, tee en warm sjokolade, beskuit, jafels en vleishappies kan geniet.

• Ander stalletjies soos boeke- en speelgoedtafels, speletjies en verskeie goed wat mense deur kan snuffel en koop.

Gedurende die kermis sal Johan Anker, wat op die heel eerste seisoen van The Voice SA opgevoer en ’n groot indruk gemaak het, ook optree. Johan het onlangs sy nuwe CD, Hoop & Bid, vrygestel en kermisgangers sal van hierdie liedjies te hore kry.

Om 1nm gaan die kermisgangers die geleentheid kry om ’n opvoering en boodskap deur sangeres, radio aanbieder en evangelis Tania Strauss te geniet.

Tania, die dogter van Christelike sanger Willie Botha, is ook die stigter en bestuurder van die Annebel Foundation wat al reeds vir meer as 10 jaar minderbevoorregte tienermeisies landswyd besorg.

Tania se tema vir die opvoering sal “Hoekom Maak ons Mekaar so Seer?” wees.

Willie Botha sal dan die volgende dag om 9vm die Hoeksteen Gemeente-erediens waarneem. Willie sal gedurende die diens sy gedagtes deel rondom “Kanse” – die kanse wat ons elke dag gegun word en die kanse wat ons verbeur deur dit nie aan te gryp nie.

Volgens Theuns Kruger van Hoeksteen Gemeente, is die doel van die kermis om samesyn en eengesindheid te bewerkstellig vir die gemeenskap in Boksburg.

“Ons wil die hart van die Vader terugbring na sy kinders toe en vir die gemeenskap ’n geleenthied gee om lekker te kan kuier. Ons nooi ieder en elk om gerus saam met ons die dag te kom geniet,” sê Kruger.

“Daar sal ’n R10 ingangsfooi gevra word by die hekke en kermisgangers kan dan die kaartjie verruil vir ’n gratis pannekoek aan die einde van die verrigtinge. Die vertonings en kinderspeletjies sal ook gratis wees.”

Vir meer inligting, of om stalletjies te boek, kan Theuns Kruger by 083 294 5659 of Riaan Gouws by 082 326 2651 geskakel word.

Daar sal ook veilige parkering beskikbaar wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version