Laerskool Goudrand spog met nuwe hoof

Vir die nuwe hoof is die skool se waardes belangrik en dat hy in spanwerk glo

Aan die stuur van Laerskool Goudrand sit Gert Botes, nou slaggereed om vir die eerste keer as hoof die leisels oor te neem.

Hy was op 9 Julie opgewonde om bekende waters te betree en is reg om die nuwe uitdaging aan te pak.

Botes het amptelik sy onderwysloopbaan in 1990 by Laerskool Hennie Basson, een van Laerskool Goudrand se saamgesmelte skole, afgeskop.

Hier het hy vir 17 jaar diep spore as onderwyser en departementshoof getrap.

In 2005 besluit hy om vlerke te sprei toe hy bevordering by Laerskool Die Arend gekry het. Hy het vir 15 jaar daar skoolgehou, voor sy terugkeer na Goudrand.

“Ek is opgewonde en reg om my taak as hoof tot die beste van my vermoë uit te voer. Ek hou van uitdagings en voel tuis by Goudrand. Ek het nog altyd ’n sagte plek vir die skool en sy mense gehad,” sê die nuwe hoof met ’n vonkel in sy oog.

“Hierdie is ’n skip wat moet seil, as jy nie aan boord is nie, moet jy maar verdrink.”

Sy toekomsplanne en visie vir die skool?

“Goudrand gee om vir kinders en daarom wil ek hê die kinders moet gekoester word en veilig wees. My doel is om geleenthede te skep wat die leerders se potensiaal sal ontwikkel.

“Ek wil ook graag, onder andere, die naskoolsentrum regkry.”

Exit mobile version