Naweek van avontuur stel passie om renosters te bewaar ten toon

Die AWAC-naweke gee die publiek die geleentheid om eerstehands met die renosters in hul natuurlike habitat om te gaan en te sien hoe weerloos en skadeloos die lieftallige diere deel van die bosveld se bekoring is.

Die Insimbi Legacy Projects se Adventure With A Cause (AWAC)-naweek wat onlangs in die hartjie van die bosveld in Limpopo gehou is, sal enige diereliefhebber se hart aangryp.

Sharon Janse van Rensburg, eienaar van Divine Be Gracious Boksburg en ambassadeur van die Insimbi Legacy Projects, se passie vir renosters het tot die sukses van die naweek bygedra.

Die Advertiser het op uitnodiging ook die naweek bygewoon.

Die nie-winsgewende organisasie is gestig met die doel om renosters, wie se horings so gesog is, teen stropers te beskerm. Die projek is op die been gebring na die geliefde Insimbi in 2014 wreed gestroop is. Die doel is om mense betrokke te kry.

Dit is Carmela Lattanzi, eienaar van die renosters, se poging om die magiese diere te beskerm. Volgens Carmela is die renoster se horing nutteloos vir menslike gebruik.

Die groep het gehelp om renosters te beskerm toe hulle onlangs die AWAC-projek ondersteun het.

Verwag om ingelig te word oor die werklike stand van sake, bewusmaking, spoorsny, skietaktiwiteite, soek van verdagte items, oorlewingsmetodes in die bos, kameraadskap bou en self ook grensdrade in die nagtelike ure te fynkam.

Hoe groot die bosveld se aantrekkingkrag ook al mag wees, skuil daar gevaar – net soos ’n haak-en-steek bos, wat jou onverwags gryp, verbloem ’n stroper homself ewe gemaklik en skroom nie om weke lank in die lang gras en rooigrond te lê nie.

Ten spyte van die Anti-Poaching Unit (APU) wat deurnag patrrolleer, sluip boosdoeners steeds deur die drade van die kampe.

Die APU werk 24 uur ’n dag om stropers se planne in die wiele te ry.

Sharon Janse van Rensburg en Carmela Lattanzi, stigter van die Insimbi Legacy Projects, doen alles in hul vermoë om renosters te beskerm.

“Ons doen dit omdat ons lief is vir hierdie diere en hulle vir die volgende generasie wil bewaar. Ek wil hê die stropers moet weet dat ons tot die tand gewapen is. Ons is reg vir hulle,” sê Solomon, wat reeds drie jaar getrou op sy pos is.

“Ons ken die diere en hulle gedrag, dus kom ons gou agter as iets verkeerd lyk.”

Gaste het dit veral geniet om gesellig om ’n bosveldvuur te braai en die naggeluide in te neem onder ’n skouspel van skittersterre.

Hier kry jy warm tuisgebakte brood en malvapoeding. ’n Tekort aan vleis is daar nie en gaste word deel van die ervaring gemaak.

Die lodge is goed ingerig met alle fasiliteite wat jy nodig het, van yskas tot televisie.

Die wenner van die AWAC-kompetise, waaroor die Advertiser vroeër berig het, is David Langford. Hy sal sy prys in Augustus opeis.

Vir meer inligting besoek www.insimbilegacyprojects.co.za

VOLG ONS:

Instagram

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Benoni City TimesSprings AdvertiserBrakpan Herald, African Reporter and Kathorus Mail.

Exit mobile version