NewsSchools

Laerskool Baanbreker kraai koning by Revue 2018

Die finaal van die jaarlikse revuekompetisie is op Woensdag, 12 September in Carnival City se Big Top Arena aangebied.

Die wenners in Lefra Produksies se gewilde revuekompetisie, Revue! is so pas aangewys. 

Laerskool Baanbreker van Boksburg het die laerskole-afdeling gewen, met Hoërskool Jeugland van Kempton Park wat die hoërskole-afdeling gewen het vir die tweede agtereenvolgende jaar.

Hoërskool Jeugland is ook aangewys as die algehele wenner. Laerskool Hennopsprak van Centurion was tweede en Rustenburg se Laerskool Vastrap was in die derde plek.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies en ook regisseur van Revue!, en waar die idee van ‘n nasionale revuekompetisie ontstaan het, sê dat hy baie opgewonde is oor die standaard van die revues.

Rocco Olivier (regs) oorhandig die Oppiwater Kunstefees-prys aan die organiseerders van Laerskool Baanbreker. Hulle is (van links), Pikkie Edwards, Lorentia Prinsloo en Amanda Bacon. Fotograaf: RINA GERTZEN

“Vanjaar se standaard was werklik baie hoog.  Vir my is die revues in der waarheid mini-musiekblyspele.  Ons het wonderlike beoordelaars gehad – Lizz Meiring, Duane Williams (Sewendelaan en West Side Story) en Helene Bester.

“Die finaliste se punte was baie na aan mekaar en die beoordelaars moes werklik kopkrap om die beste revues as wenners aan te wys,” het Swart gesê.

“Daar is tydens die finale baie streng en tegnies beoordeel.  Ons revue-kompetisie het spesifieke reëls om aan die genre ‘revue’ te voldoen.

“Revue! is vir my ‘n extravaganza van musiek, dans, kostuums, klank en kleur.  Die beoordelaars het baie streng op hierdie formate van die revues gefokus.  Natuurlik was dit vir die beoordelaars baie belangrik dat die beste revues moes wen.”

Hier te sien is Heinard Stroebel (hoofseun van Laerskool Baanbreker), Duane Williams (beoordelaar) Helene Bester (beoordelaar), Bianca Swart (hoofdogter van Laerskool Baanbreker ) en Frans Swart (regisseur). Fotograaf: RINA GERTZEN

Swart het gesê dat die kompetisie op ‘n uitklopbasis aangebied was.

“Ons het ook ‘n realiteitshoek aan die hele kompetisie gegee.  Ons besef die kompetisie-element is baie belangrik, want skole ding graag met mekaar mee.  Maar vir my was dit nog altyd belangriker dat dit eerder ‘n revue-fees moet wees as ‘n revue-kompetisie.

“Vanjaar was dit vir my lekker om te sien hoe die deelnemers met mekaar kommunikeer, lag en gesels.  Dit het my ook opgeval tydens die finaal dat ouers en ondersteuners nie net hulle eie skool aangemoedig het met applous nie, maar dat hulle luide applous vir al die skole en hul deelnemers gegee het. “

Vanjaar se kompetisie sal veral onthou word vir die agtjarige Joshua Ziervogel van Laerskool van Riebeeckpark se Junior-revue, Riebies Diner.  Hy het sosiale media aan die gons nadat Swart een aand ‘n videogreep van klein Joshua se optrede op Facebook geplaas het.

Groot pryse was op die spel en elke deelnemer ontvang ‘n sertifikaat van deelname.  Elke wenskool het ‘n R10 000 kontantprys ontvang, met R5 000 vir die tweede plekke en R3 000 vir die derde plekke.

Daar is ook ‘n lekker verrassing vir die revue organiseerders – die wen laer- en hoërskool se revue organiseerders het ook elkeen ‘n kajuit vir twee na die suksesvolle Oppiwater Kunstefees 2019 op die luukse MSC Musica van Durban na Mosambiek gewen.

Die Oppiwater Kunstefees 2019 vind vanaf 15 tot 19 April plaas.  Wenskole ontvang ook trofees wat deur die skool gehou kan word.

Revue! was aangebied met die samewerking van Carnival City, Stuttaford Van Lines, Hollywood Costumes en Neuhoff Ouditeure.

Skole wat vir 2019 se kompetisie wil inskryf, wat weer tydens Augustus en September by Carnival City aangebied gaan word, kan ‘n e-pos stuur aan admin@lefra.com.

Vir meer inligting oor Revue! kontak vir Lefra kommunikasie en bemarking by 011 815 3000 of stuur ‘n epos aan navrae@revues.co.za  Besoek die webtuiste www.revues.co.za.

LEES OOK

Laerskool Baanbreker wen Revue 2016

Oosterlig – ‘n kwarteeu van revue uitmuntendheid

Follow us:

Twitter

Instagram

Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Benoni City Times, Springs Advertiser, Brakpan Herald, African Reporter and Kathorus Mail.

 

 

 

Related Articles

Back to top button