Editor's choiceLocal newsNews

Sarie Klub vier 47 jaar

Sarie Klub is in 1971 deur Sarie Oberholzer en Babs Maré gestig en elke jaar het die groep vroue ’n reuse verskil in die gemeenskap gemaak.

 

Sarie klub is hierdie jaar 47 jaar oud. En natuurlik moet daar partytjie gehou word.

Die Sarie klublede en hul gaste kom een keer ’n maand vir lekker geselskap en samesyn bymekaar. Die geleenthede stel nooit teleur nie.

’n Sarie vrou maak moeilike tye hanteerbaar en die goeie tye onvervangbaar.

Die lede van die Sarie Klub het hul verjaarsdag met ’n onvergeetlike “Lipstiek en Sjampanje”-ontbyt op 26 Mei om 10 vm gevier waar bekende sanger en akteur Kevin Leo die gaste vermaak het.

Hierdie spoggeleentheid is by die Lakeview Boutique Hotel in Farrarmere gehou waar die gaste verwelkomingsdrankies gekry het en by die mooiste gedekte tafels aangesit het.

Met die intrapslag is die gaste herinner dat jy as vrou tyd nodig het om na jouself te kyk en jouself te bederf, “want vroue harte is Sarie harte”.

’n Heildronk is op die Sarie lede ingestel en almal het ‘veels geluk liewe Sarie’ uit volle bors gesing.

Kevin het met sy engelstem, skerp grappies en sjarmante persoonlikheid die gaste omtrent laat glimlag. Hulle het saamgesing, hande geklap, aangemoedig, geskree en net die oggend saam met hul vriende geniet.

Leo se diverse program het iets vir almal gehad, met ou Gé Korsten bekendes soos Liefling, Elvis Presley treffer Can’t Help Falling In Love, ‘n Italiaanse Aria of twee en, natuurlik, Voshaarnooi, wat die gaste hoendervleis gegee het.

Hy het ook ou staaltjies en herinneringe van sy loopbaan gedeel waar hy sy waardering vir vroue en die rol wat hulle in die mooi van die wêreld speel uitgelig het. Sy optrede was ook ’n getuienis van moeilike tye en hoe die krag van gebed hom deurgedra het.

Kevin het die belangrikheid van vergifnis aangeraak en die gaste aangemoedig om hul liefde vir mekaar te deel.

“Die wêreld gaan vir die positiewe verander as ons meer liefde uitdeel,” het Kevin gesê.

Die gaste het ’n smullekker ontbyt met spek, eiers, roosterbrood, vars vrugte en vele meer geniet.

“Dit was ’n oggend vol lag en gesels met stylvolle, unieke dames wat bydrae tot die gemeenskap se groei en opbou,” het Susan Noppe gesê.

“Almal is welkom tussen die Sarie Klub lede en word met ’n glimlag na hul geleenthede uitgenooi.

“Die Sarie Klub lede woeker met hul talente, geniet die mooi dinge in die lewe en staan sterk in hul gemeenskap.

“Die gaskunstenaars bring elke keer ’n nuwe, spesiale aspek na die samekoms en die band tussen die lede word elke maand net sterker.”

Om deel te word van die klub, bel Susan Noppe 083 268 7245 of stuur ’n e-pos na noppe@worldonline.co.za

LEES OOK: Sarie Klub: Ons elkeen verdien die gesig wat ons het 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button