Editor's choiceLocal newsNews

Pak die gewig aan en eet die ‘olifant’ happie vir happie

Malissa Booyens neem deel aan die nuwe realiteitsprogram, Verloor jou Appel.

 

Om jou ideale gewig te bereik is ’n uitdaging wat meeste mense gereeld tot trane dryf.

Om gewig te verloor en om na die beste weergawe van jouself te transformeer is makliker gesê as gedaan. Tog is dit nie onmoontlik nie.

Malissa Booyens, ’n inwoner van Parkrand, het besluit om die pad na sukses aan te pak en aan die nuwe realiteitsprogram, Verloor jou Appel, deel te neem.

Sy het dadelik, toe sy die advertensie op Facebook sien, geweet sy moet die geleentheid aangryp en na haar aansoek en twee onderhoude het Booyens haar reis na ’n beter en ‘ligter’ Malissa begin.

Booyens woon al vir die afgelope 20 jaar in Boksburg. Sy en haar gesin geniet die rustigheid in Parkrand. Booyens vertel dat sy al haar hele lewe moet let op haar gewig.

“Dit is maar in ons familie, ons is Italiaans,” sê Booyens.

  • Welsynsprojek

Sy vertel dat sy na haar ma se skielike dood, so vyf jaar gelede, nie regtig meer omgegee het oor haarself en haar gewig nie.

Hierdie jaar vier Booyens haar 40ste verjaarsdag en sy het besluit dis weer tyd om op haarself te fokus.

“Met ’n man en kinders, ’n veelysende werk en ’n huis om aan die gang te hou, vergeet jy so vinnig van jouself.”

Verlede jaar September het Booyens besluit om vir die program in te skryf en haarself eerste gestel om haar lewenstyl te verbeter.

Die TV-reeks fokus daarop om ’n verskil in mense se lewe te maak. Hulle voorsien ’n platform vir mense wat sukkel met gewigsverlies waar hulle hul stories met die gemeenskap kan deel.

Tydens die deelnemers se gewigsverliesstryd op die program is daar ’n paar uitdagings vir hulle gestel, die grootste hiervan is die welsynsprojek wat hulle moet dryf.

Die doel hiervan is om drome te skep deur middel van beurse vir die jeug. Die Be Your Dream beurse projek word op die program ondersteun.

Booyens hoop om nie net haar lewe te verander nie, maar ook die jong mense in die gemeenskap te help.

“As ons hierdie jongmense kan help, maak ons nie net ’n verskil in hulle lewe nie, maar ook in hulle gesinne s’n en verbeter hul toekoms,”

Die proses is nie maklik nie, en om gewig te verloor sonder ’n persoonlike fiksheidsinstrukteur en dieetkundige voel onmoontlik.

Booyens beskryf die realiteitsprogram as ’n wonderlike geleentheid om gemotifeerd te bly en ook om produkte en ’n dieetprogram te kan gebruik sonder om ’n gat in jou sak te brand.

“Ek sukkel nog altyd om gewig te verloor, mens dink jy kan dit nooit doen nie, Die program help jou om die ‘olifant’ happie vir happie op te eet.”

Booyens neem ook deel aan die program om mense van die gemeenskap te motiveer en te inspireer.

Al is dit nie altyd maklik nie, is die proses ’n positiewe ervaring vir die hele Booyens gesin.

  • Uitdaging

“My seuntjie draf saam met my en wanneer ek lus is vir ietsie lekkers dan herhinner hy my dat dit my beurt is om na myself te kyk.”

Booyens is dankbaar vir haar man en kinders se ondersteuning en sy is opgewonde vir die pad vorentoe.

Volgens Booyens is die grootste uitdaging om nie meer so gereeld suiker te eet nie.

“Ek is ’n ‘swietie’ mens; ek is mal oor soetgoed,” se Booyens.

Booyens wil omtrent 30kg verloor. Sedert sy die program in Januarie begin het, het sy sowat 15kg verloor.

Die grootste deel van gewigsverlies gebeur nie in jou liggaam nie, maar in jou denkproses.

“Kry jou kop reg. As jy positiewe denke het sal jou lyf volg,” se Booyens.

Booyens is sterk op pad na haar ideale gewig en is ’n baken van hoop vir almal in Boksburg om na hulself te kyk en nooit moed op te gee nie.

Om Booyens te help met haar projek by Be Your Dream, kontak haar op 084 585 6246.

Follow us:

Twitter

Instagram

Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button