Local newsNews

ATKV Boksburg gaan steeds van krag tot krag

Die tak het ook teruggekyk na die talle suksesvolle projekte van 2017

 

Die ATKV Boksburg Gesinstak het op 6 Februarie ’n takjaarvergadering te NG-kerk Boksburg Wes gehou.

Met ’n warm verwelkoming en nuwejaarsopwinding was die tak voltallig.

Tydens die verrigtinge het twee nuwe gesinne van Boksburg ook as taklede aangesluit.

“Die Boksburg Gesinstak is die lekkerste, mees aktiewe tak met die meeste lede,” sê Magon Mouton, die streeksverteenwoordiger.

Volgens Mouton is daar baie opwinding wat wag vir die ATKV in 2018.

Met afdelings wat herstruktureer word en die ATKV Kletswerf toep wat binnekort vrygestel sal word, is die ATKV nou meer opgewonde as ooit om soveel as moontlik nuwe aktiewe taklede te werf en te verwelkom.

Die Boksburg Gesinstak het ’n paar aaneenlopende projekte soos die Huis Thandi en Charis, ’n tehuis vir kinders wat die gesinstak finansieël ondersteun en Mums en Bubs, wat babaklere aan moeders met pasgebore babas by die Steve Biko Hospitaal verskaf.

Dawie Brits (voorsitter) en Magon Mouton (streeksverteenwoordiger) by die ATKV Boksburg Gesinstak vergadering op 6 Februarie.

Die gesinstak skenk gereeld babaklere, komberse en fondse aan die projek.

Tydens die vergadering het die taklede ook teruggekyk na die talle suksesvolle projekte van 2017 soos die tien Graad 12 leerders wat hulle gehelp het met befondsing en uitrustings om hul matriekafskeid by te woon.

Die tak het ook in 2017 R3 000 bewillig vir die ATKV se studiehulpfonds en die projek by die Kowa Pienaar Ouetehuis, waar hulle nuwe handdoekreëlings en hakke asook gordynreëlings opgesit het, is suksesvol afgehandel.

Die aktiewe lede van die gesinstak maak daagliks ’n verskil in Boksburg en gaan ook ’n lid na die ATKV jaarvergadering te Klein Kariba in Julie stuur om die Boksburg Gesinstak te verteenwoordig.

Om aan te sluit by die ATKV Boksburg Gesinstak, kontak Dawie van der Merwe by 011 826 2716.

Volg ons:

Twitter

Instagram

Facebook

Related Articles

Back to top button