Concordia se revue vier 80 jaar van genade

Om hul 80ste bestaansjaar te vier, het Laerskool Concordia vanjaar hul revue, Grace, aangebied.

Die eerste vertoning was op 7 Augustus vir die ouetehuise en leerlinge en die gala-aand het op 16 Augustus plaasgevind.

“Om 80 jaar van genade te kan vier, is ’n groot voorreg,” sê skoolhoof, Christo Lodder.

“Maar, om aan die hoof van Laerskool Concordia te wees, is ’n groter voorreg. Hoekom? Omdat ons kinders anders is en ’n ander blink in hul oë het; omdat die personeel soveel ekstra myle sal loop.

“Dis die mense saam met wie ek oorlog toe sal gaan. Ek is lief vir julle.”

Grace is ’n besonderse revue wat in die hart gebore is en ewe skielik het al die harte saam geklop.

Lodder bedank al die 410 kinders wat deel van hierdie groot gebeurtenis was.

Hy bedank ook die produksiespan en hele onderwyskorps.

“Spesiale dank aan Karen Zevenbergen – jy is baie besonders. Joye du Plessis en Liezel du Plessis – baie, baie dankie. Dit was ’n voorreg om saam met julle te werk. Aan die sanggroep, onder leiding van Ilse van Loggerenberg en Carien Barnard – julle het ’n reuse taak met groot sukses voltooi. Ons is trots op julle.”

Laastends bedank Lodder al die ouers wat baie moes opoffer – “ons waardeer julle baie en is trots op julle”.

Hy het ook die leerlinge van Nerine Kleuterskool by hul eerste revue verwelkom.

Exit mobile version