Egpaar vier vyf dekades van liefde

Op 31 Julie 1966 het Naas (72) en Makkie Bothma (69) op ’n blinde afspraak by ’n dansplek ontmoet.Makkie se tweede-oudste suster en haar man het die ontmoeting gereël.

Dit was liefde met die eerste oogopslag. Daardie aand het Tannie Makkie ook haar eerste soen ontvang, en dít van haar een en enigste liefde, Oom Naas.

“Toe ek hom (Oom Naas) sien, het ek geweet God het hierdie engel vir my gestuur,” sê Tannie Makkie.

Haar ma het hom dadelik aanvaar en het “die grond aanbid waarop hy geloop het”.

Vanaf daardie dag in 1966 is Oom Naas en Tannie Makkie onafskeidbaar en op 19 Augustus 1967, te NG-kerk Bez Valley, het hulle die knoop deurgehaak.

’n Spesiale foto van die Bothma-egpaar se troudag, vyftig jaar gelede.

Dis 50 jaar later en hulle spog met drie kinders, vier kleinkinders en twee agter-kleinkinders.

“Pappa” en “Mamma”, soos hulle mekaar noem, is al ’n jaar in Witfield woonagtig. Voordat hulle hierheen gekom het, het hulle vir vyf jaar in Primrose, Germiston gewoon, maar hulle noem hulself Kapenaars omdat hulle vir twintig jaar in die Kaap gewoon het.

Die paartjie het graag gedans in hul jonger dae en het ook gereeld by inryteaters gaan fliek.

Oom Naas se saggeaardheid, geduld, en die feit dat hy maklik vergewe, plat op die aarde en liefdevol is, het Tannie Makkie tot hom aangetrek.

“Hy is een wonderlike, fantastiese man,” vertel Tannie Makkie.

Oom Naas en Tannie Makkie se kinders het hierdie spesiale fotoraam vir hulle gemaak ter viering van hul vyftigste huweliksherdenking. Die foto is op hul troudag, op 19 Augustus 1967, geneem.

Oom Naas sê hy kan dieselfde van “vroutjie” sê.

Hy voeg met trots by dat Tannie Makkie altyd deur ’n ring getrek kan word.

“Sy het nog nooit onnet gelyk nie en waar ook al sy gaan, kry sy altyd komplimente,” sê Oom Naas.

Om die egpaar se vyftigste huweliksherdenking te vier, het hul kinders ’n samesyn met vriende en familie 19 Augustus gereel.

“Ek kon die warmte voel; dit was gesellig en perfek. Ons het die mees wonderlike familie waarmee God ons geseën het,” sê Tannie Makkie.

Die paartjie se resep tot ’n gelukkige huwelik is om nooit kwaad te gaan slaap nie, kommunikasie, vetroue in mekaar, respek vir mekaar en volkome wedersydse liefde.

Oom Naas en Tannie Makkie is nog albei jonk van gees. Sy doen blokraaisels en Soduku om haar brein aan die gang te hou en die Oom hou van lees.

“Ek sê dankie Here vir hierdie 50-jaar mylpaal – dit is al waarvoor ek gevra het. Mag Hy ons nog vir lank saam spaar,” sê Tannie Makkie.

Exit mobile version