Local newsNews

KYK VIDEO: Dwergies, paddas en tot twee boemelaars – alles in een tuin

Martie Pretorius (65) se persoonlikheid is net so kleurvol soos die miniatuur standbeelde in haar tuin wat sy self geverf het.

Dié standbeelde wissel van dwergies, paddas en slange tot twee boemelaars met hul eie afdak waaronder hulle sit.

Hierdie veertig-jarelange inwoner van Witfield loop oor van trots oor haar dwergtuin.

Sy het nog altyd die begeerte gehad om haar erf in ’n dwergtuin te omskep en dié droom is vyf jaar gelede in ’n werklikheid getoor.

 

Hierdie stokperdjie het 25 jare gelede ontstaan toe Martie se kinders nog op skool was.

Sy het haar standbeelde oor die jare bymekaar gemaak.

“Ek het altyd gekoop en weggebêre tot ek genoeg het,” sê sy.

“Dit het altyd in my sitkamer gestaan en toe ek sien ek het nou genoeg, het ek hulle geverf en buitekant toe gebring. Nou is my tuintjie mooi vol.”

Haar man, Corrie, het mettertyd bakstene in die tuin gelê, want elke keer wat die gras gesny word moes die beelde opgetel en geskuif word.

Gedurende Desember-maand gaan neem vakansiegangers ook foto’s in Martie se prag dwergtuin.

Martie versamel steeds standbeelde en vertel dat sy haar beeldjies vanaf verskillende plekke kry.

“As ons ’n plekkie iewers sien wat dit verkoop of as daar langs die pad verkoop word, stop ons en as ek iets sien waarvan ek hou dan koop ek dit,” sê Martie.

Sy koop elke standbeeld rou en verf elkeen self; haar man help ook graag. Martie is van nature kunssinnig en het nog nooit ’n verfklas bygewoon nie.

Sy verf met akriel en het bykans 100 verskillende kleure buisies, maar sy meng ook die kleure soos wat sy dit wil hê.

Die verf verweer na so drie jaar dan moet sy die beeldjies weer verf.

Dit het haar ’n maand geneem om ongeveer 300 standbeelde te verf. Sy het 7vm begin en om 6nm het sy haar verfkwaste neergesit.

Baie mense klop nou aan by Martie met die vraag of sy nie vir hulle wil verf nie, maar sy sê dat sy nie belangstel nie.

Haar man en familie is mal oor haar stokperdjie maar sy bieg dat daar wel mense is wat sê sy is ‘weird’.

“Hulle kan sê wat hulle wil, want dit is myne,” skerts sy.

Martie is nie mal oor blomme nie, dus as jy vir haar iets wil gee, is ’n item vir haar dwergtuin altyd welkom.

  • Kliek hier vir meer foto’s van Martie se dwergtuin

 

Lees ook:

 

Got a story? Call our offices on 087 285 5196.

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages.

Related Articles

Back to top button