Jou gesig kan baie van jouself vertel

Marthie Maré, ’n gesigontledingkenner (fisionomie) het op 28 April by die Sarie Klub, te Summer Place, kom kuier.

Elke gesig het sy eie unieke storie om te vertel en ‘n persoonlikheidsprofiel kan van iemand saamgestel word deur bloot die gelaatstrekke te bestudeer.

Die aanhaling vanuit Lewis Carol se Alice in Wonderland, “Who in the world am I? Ah, that is the great puzzle”, het Maré geïnspireer om haar boek Legkaart van Jou Gesig te skryf.

Toe sy die eerste keer aan fisionomie blootgestel is, was sy baie skepties daaroor.

Maré het ongeveer drie jaar lank deeglike navorsing hieroor gedoen en begin besef dat fisionomie ’n ongelooflike metode is om mense te “lees”.

Haar nuuskierigheid vir dié veld het in ’n stokperdjie ontwikkel en dié stokperdjie het op die ou einde haar beroep geword.

In ’n baie insiggewende praatjie het Maré elke gelaatstrek van die gesig kortliks verduidelik.

Fisionomie is die studie van die gesig. Daar word gekyk na elke gelaatstrek op die gesig en elke gelaatstrek vertoonwoordig ’n aspek van die persoon se persoonlikheid.

Volgens Maré, om te ontleed moet jy die linker- en regterkant van ‘n gesig kan raaksien.

Die linkerkant van die gesig is jou privaat persona – dis die kant van jou wat die naaste is aan wie jy werklik is. Dit is jou ware self.

Die regterkant van die gesig verteenwoordig jou publieke persona – dis die kant van jou wat jy vir ander mense wys en graag wil hê mense moet van hou.

Volgens Maré is die linker- en regterkant van jou gesig nie dieselfde nie. Daar is ’n paar goed wat nie simmetries is nie.

“Dit is so omdat jy nie dieselfde eienskappe ten toon stel by die werk as wat jy byvoorbeeld by die huis ten toon stel nie,” het sy gesê.

“Dit is belangrik om te weet dat jy mag wees wie jy is in enige situasie. Probeer om nie ’n tweedehandse weergawe van iemand anders te wees nie, maar ’n oorspronklike weergawe van jouself.

“Maak nie saak wat jy doen in die lewe nie, daar gaan altyd mense wees wat van jou hou en mense wat nie van jou hou nie. Ons is besig om soveel tyd te mors in ons lewe om te wees soos wat ander mense van ons verwag om te wees.”

Op elke gelaatstrek is daar ongeveer drie vorms wat jy kan kry, naamlik reguit, spits en rond.

Verita Moller (links) en Anneke van der Walt.

Maré het elke gelaatstrek kortliks verduidelik.

Die voorkop dui denkprosesse aan.

“Dit is bitter min dat jy ’n picture perfect prentjie kry van voorkoppe of neuse wat presies in een kategorie val; daar is baie keer ’n kombinasie,” het sy gesê.

Skuins: Persoon het ’n visuele denkwyse. Hy sien die eindresultaat van sy prentjie baie maklik in sy kop. Die moeilike deel is om dit aan iemand anders te verduidelik.

Rond: Die ronding beteken die persoon het baie kreatiewe, aanvanklike gedagtes.

Reguit: Persoon het logiese denke en hou van volgorde.

In gevalle waar die voorkop in meer as een kategorie val, dui die gedeelte bo die wenkbroue aan hoe die persoon hierdie idees vat en begin fokus op detail.

“As ’n mens weet hoe ’n ander persoon dink en hom verstaan – deur te weet wat elke gelaatstrek beteken – is dit makliker om daardie persoon te benader,” het Maré gesê.

Daar is baie aspekte van die wenkbroue wat ’n mens kan ontleed.

Rond: Die persoon hou van mense en het ’n sensitiwiteit vir mense en hulle gevoelens.

Reguit: Hierdie persone wil net die feite weet.

Spits: Iemand wat ’n spits in sy wenkbrou het, hou daarvan om in beheer van sy omgewing te wees.

“Hulle is nie control freaks nie, maar hulle hou daarvan om ’n situasie te bestuur of om beheer te neem van ’n situasie,” het Maré gesê.

Wanneer jy hierdie persoon benader, gee vir hom ’n opsie sodat hy die besluit kan neem. Sodoende voel hy in beheer van die situasie.

Die verspreiding van die hare van die begin tot aan die einde van die wenkbrou, dui aan hoe die persoon fokus op besonderhede vanaf die begin van ’n projek tot die einde.

Dig na dun: Dit word beginnerswenkbroue genoem. Dit beteken die persoon gaan entoesiasties ’n nuwe projek aan, die gang kry, maar halfpad deur die projek verloor hy belangstelling.

Dun na dig: Dit staan bekend as eindigerswenkbroue. Dit kom meer voor by mans. Hierdie persoon kan glad nie aan die gang kom nie en het geen entoesiasme aan die begin van ’n projek nie. Maar, as daardie projek eers aan die gang is dan is daar geen ophou aan die persoon nie. Hoe langer die projek aan die gang is, hoe meer entoesiasme kry hierdie persoon.

Die dikte van ’n persoon se wenkbrou sê hoeveel inligting dié persoon kan inneem.

As jy baie dun wenkbroue het, wil jy dinge vereenvoudig.

“Hulle wil net die bottomline hê,” het Maré gesê.

Mense met baie dik wenkbroue hou daarvan om dinge te kompliseer. Hulle wil meer inligting hê.

“Enige iets wat jy aan die buitekant van jou liggaam verander, gaan ’n invloed hê op daardie aspek wat verteenwoordig word,” het Maré verduidelik.

“Maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Dit moet daadwerklik ’n deel van jou persoonlikheid word.

“Dieselfde geld van binne na buite. Hoe ’n mens verander oor die jare wys ook op jou gesig.”

Hanniki Broodryk (links) en Clasie Holmes.

Neuse neem baie vorms aan. Die vorm van jou neus verteenwoordig jou werkstyl.

Konkaaf: Hierdie persone gebruik hul intuïsie wanneer daar probleme ontstaan. Hulle voel daar is iets wat nie reg is nie en besef later wat dit is.

Reguit: Persoon het ’n baie logiese werkstyl. Wanneer daar probleme by die werk ontstaan, sal hy na die feite kyk en ’n logiese oplossing vind.

Gebuig: Persoon vind kreatiewe oplossings vir probleme by die werk. Hierdie persone hou ook daarvan om bietjie te delegeer. Hulle wil sien dat hul planne geïmplimenteer word en het soms ’n bietjie van ’n ongeduld in hulle.

Die breedte van jou neus sê hoe gemaklik jy is om in ’n groep saam te werk.

Smal: Hierdie persone wil alleen werk en wil nie base hê wat oor hulle skouers loer nie. Hulle het ’n onafhanklike werkstyl.

Breed: Hulle is gemaklik daarmee om saam in ’n groep te werk en put energie uit ander mense uit.

Die breedte van die begin van ’n neus (by die wenkbroue) dui aan hoe ’n persoon te werk gaan tydens ’n projek. Wanneer die begin van die neus breed is, beteken dit die persoon gaan alle inligting wat hy benodig bymekaar maak vanuit verskillende oorde. ’n Neus wat dan skielik baie smal raak, beteken die persoon gaan al die inligting alleen deurwerk. As die neus geleidelik weer breër word, beteken dit dat die persoon geleidelik weer ander mense by die projek betrek.

Daar is ook verskeie neuspunte.

Spitspunt: Dit beteken dat die persoon ’n ingesteldheid het van oorvloed. Môre sal vir homself sorg.

Ronde punt: Hierdie persone het ’n emosionele behoefte aan ‘genoeg’. Hulle het ’n behoefte daaraan om te weet daar word gesorg vir die dag van môre.

“Daar is niks wat reg of verkeerd op ’n gesig is nie; dit is net verskillend en dit is wat ons so uniek maak,” het Maré gesê.

Die mond dui ’n persoon se kommunikasiestyl aan.

Dominante bolip: Persoon kan uitgesproke en ongelooflik eerlik wees.

Dominante onderlip: Persoon het baie goeie oorredingsvermoë. Hierdie persone glo dikwels nie dat hulle die vermoë het om ander te oorreed nie.

“Ons talente op ons gesig wys en ons glo nie dat ons dit het nie,” het Maré gesê.

Die ken vertel wat ’n persoon in ag neem wanneer hy besluite neem.

Rond: Hierdie persoon neem ander mense in ag wanneer hy besluite neem, ten koste van homself. Hy stel ander mense voor homself – al is daardie besluit nie eintlik wat hy wil hê nie – omdat hy sleg voel of hulle jammer kry.

“Jy is ook ’n mens; probeer om ’n besluit te neem volgens wat goed is vir jouself en vir die ander persoon,” het Maré gesé.

Reguit: Hierdie persoon neem net feite in ag wanneer hy ’n besluit neem. Hy kyk na reg of verkeerd, groot of klein en wit of swart. Hy kan gevoelloos voorkom vir dié met die ronde kenne.

Spits: Hy neem eers besluite wat vir hom gemaklik is en dan dink hy aan ander persone.

Die grootte van jou ore bepaal hoe lank jy na ’n storie kan luister.

Klein: Hulle kan nie na lang stories luister en baie inligting inneem nie.

“As jy klein ore het, skep vir jouself onderbrekings deur byvoorbeeld net jou pen te laat val en hom weer op te tel,” het Maré gesê.

“Óf maak notas maar kry vir jou ’n metode wat jou kan help om nie belangrike detail in die proses te verloor nie.”

Groot: Hulle kan na baie lang stories luister, maar dan raak hulle later so verward oor wat hulle eie opinie is want hulle het na soveel verskillende mense se stories geluister.

“Moenie na teveel mense luister nie; luister selektief en maak jou opinie.”

Die posisie van die ore is ook belangrik.

As jou ore halfpad onder die basis van jou neus is, beteken dit jy het lae ore.

Persone met lae ore is geneig om dinge uit te stel.

“Jy wil alles hê wat jy moontlik nodig kan hê om ’n projek te begin, want jy wil nie later iets oordoen nie – jy wil dit van die begin af reg doen,” het Maré gesê.

“Sodra jy met ’n projek begin en iets benodig, sien jy dit as geleentheid om nie verder daaraan te werk totdat jy daardie ‘iets’ het nie.

“Gaan aan met die volgende afdeling totdat jy daai ‘iets’ wat jy nodig het, gekry het dan keer jy terug na die vorige afdeling en maak dit klaar.”

’n Mens kan fisionomie en die kennis van jouself elke dag prakties in jou lewe gebruik.

“As ons leer hoe om na mense te kyk sonder om hulle te oordeel maar eerder om hulle te verstaan, dink net wat ’n wonderlike kommunikasie gaan ons hê met mekaar,” het Maré gesê.

Exit mobile version