Jarelange inwoner vier 80ste verjaarsdag

Chris Joubert was ’n Boksburg inwoner vanaf die dae toe Rietfonteinweg nog ’n wandelpad was, waarin jy gerieflik kon loop en fietsry.

Op 19 Februarie het hierdie vyftig-jarelange inwoner van Boksburg, sy 80ste verjaardag saam met familie gevier.

Die Advertiser het gaan kuier by die huis in Comet waar hy op 15 Julie 1967 ingetrek het en vir nét R9 500 gekoop het.

Oom Chris is in 1937 in Volksrust gebore en is die oudste van vyf kinders. Vandag is hy die enigste oorlewende van al sy sibbe.

Op die ouderdom van 11 is sy ma aan kanker oorlede en, weens omstandighede, het Oom Chris en sy broers en susters in verskillende huise grootgeword.

Chris Joubert woon al die afgelope 50 jaar in Comet, Boksburg. Hy het op 19 Februarie sy 80ste verjaardag gevier.

 

Vir die afgelope ses jaar is Oom Chris getroud met wie hy beskryf as “’n juweel van ’n vrou”, Tannie Dorothy.

Hulle is nog baie aktief; die paartjie dans baie graag en is vreeslik lief vir loop. Dié twee is betrokke by die Parkrun Saterdae oggende, by die Boksburg Stadion.

Die Oom en Tannie het ook tot onlangs deelgeneem aan gras rolbal.

Oom Chris het destyds vir Eskom gewerk en het op daardie dag in 1967 sak-en-pak met sy eerste vrou en oudste dogter, Emmerentia Botes, wat toe net ’n skamele maand oud was, ingetrek.

Vir bystanddiens omstandighede moes Oom Chris naby aan sy werk woon en hulle ou mynhuis was slegs 12km vanaf die depot in Germiston.

Oom Chris se lewensverhaal in ’n neutedop.

 

“Ek bly baie lekker hier,” het Oom Chris vertel.

Deur die jare het hy by die huis aangebou en veranderinge aangebring. Die tuin is ook mooi versorg.

Hy vertel hoe geseënd hy is, wat nog nie hiér ’n huisinbraak ervaar het nie.

Oom Chris se jongste dogter, Amelia Strydom, het later haar opwagting gemaak.

“Ek is baie lief vir my dogters,” het hy met trots gesê.

Oom Chris herroep die “goeie ou dae” van Boksburg, toe ontwikkeling maar nog baie skaars was.

“Ons het met trapfietse reg deur die dorp gery en kon tot middernag window shopping doen,” het hy vertel.

Alles en meer oor Oom Chris.

 

“Dit was ’n lekker, veilige dorpie gewees.”

Hy het gesien hoe die stad deur die jare onwikkel; waar die East Rand Mall en East Point Centre vandag staan, was Griesel se Melkerye, die K90 Centre was ook nooit daar gewees nie, waar die Freeway Bybelkerk in Comet vandag is, was die ERPM Myn Hospitaal en die ERPM Married Quarters was daar waar die Pebble Falls woonstelle vandag is.

Oom Chris verlang terug na die dae waar die diens van die munisipalitieit “puik” was.

“Die sypaadjies se gras was altyd gesny, die strate was skoon en netjies, die straatligte was 120 per sent instand gehou en die verkeersligte het altyd gewerk,” het hy gesê.

“As jy jou telefoon optel om ’n probleem te rapporteer, was daar altyd iemand wat aandag aan jou klagte gegee het – daar was dadelik resultate.”

Hy vertel dat inwoners vandag onderdruk geplaas word om dït te doen waarvoor jy eintlik betaal, soos, byvoorbeeld, om die gras van die sypaadjies te sny.

“Ek mis goeie kommunikasie tussen die munisipaliteit en die inwoners.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version