Nuwe skooltassies vol liefde vir Graad Een-leerlinge van Boksburg

Altesaam 110 behoeftige Graad Een-leerlinge van Boksburg het vanjaar gebaat uit Solidariteit Helpende Hand se jaarlikse Skooltassieprojek.

Vyftig Graadeens van Laerskool Witfield en sestig Graadeens van Laerskool Goudrand het op 16 Januarie met splinternuwe skooltasse huistoe gegaan.

“Ons doen hierdie projek sodat die behoeftige Graadeens nie voel hulle begin hul skooljaar met ’n agterstand nie,” het Alida Reed, voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Boksburg-tak, gesê.

Die Skooltassieprojek is ’n nasionale projek en poog om ‘n onmisbare bydrae in kinders se lewens te maak en behoeftige Graadeens in staat te stel om hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats te begin.

Helpende Hand poog om ’n goeie kwaliteit tassie met opvoedkundige inhoud van hoë gehalte aan graadeens te verskaf.

Die tassies is toegerus met alle skryfbehoeftes wat die leerlinge die jaar mag nodig kry.

Die organisasie samel tans skryfbehoeftes in – enige skenkings word hoog op prys gestel.

Om ’n bydrae te lewer of om betrokke te raak by die plaaslike tak, skakel vir Alida by 082 228 3552 of 011 826 1112.

Exit mobile version