Laerskool Baanbreker wen Revue 2016

Laerskool Baanbreker se Senior Revuegroep het KykNET NOU! se Revue 2016 gewen met hulle revue, Fusion: Music Genres.

In die tweede plek was Laerskool Kruinsig met Say Monster en in die derde plek was Laerskool Baanbreker se Junior Revue met Once Upon a Crime!.

Beoordelaars Lizz Meiring, Pieter Smith en John Jacobs moes baie kop krap om uiteindelik by ’n wenner van die Laerskole Afdeling uit te kom.

Lizz sê die standaard van die Laerskole Afdeling was ongelooflik hoog.

“Ek kon werklik nie glo dat dit laerskole is wat hier voor ons optree nie,” het sy gesê.

“Die standaard was so hoog dat ek gevoel het dat ons na mini-musiekblyspele kyk.”

 

Pieter Smith, wat veral ook na die sang geluister het, sê dit was vir hom baie lekker om Revue 2016 te beoordeel.

“My tone het gekrul van lekkerkry vir die lekker sang van die revues,” het hy gesê.

“Dit was ook vir my heerlik om te sien hoe entoesiasties die laerskooldeelnemers sing en dans.”

John Jacobs, wat aanvanklik die naam ‘Mr Grumpy’ gekry het by die deelnemers, sê hy was werklik beïndruk met die standaard van die revues.

“Hierdie is op internasionale standaard … ons kon net so wel in Las Vegas gewees het.”

Die wenskool, Laerskool Baanbreker, wen R10 000 in prysgeld, R25 000 se vleis, met die komplimente van Meat World, vir die skool se voedingskema en dan wen die organiseerders ook ’n bootvaart op die Oppiwater Kunstefees vanaf 30 April tot 5 Mei, aanboord die MSC Sinfonia.

 

Die skoolhoof van Laerskool Baanbreker, Tom Hoffman, sê hy is in die wolke oor die wen en ook derde plek in Revue 2016.

“Ons is werklik baie trots op ons wenrevue, maar net so trots op ons juniors wat derde plek behaal het,” het Hoffman gesê.

“Om twee revues in die finale afdeling te gehad het, was reeds vir ons ’n groot voorreg.

“Toe wen ons Revue 2016 met Fusion: Music Genres.

“Ons deelnemers en onderwysers het werklik baie hard aan hierdie een gewerk en ons is vandag trotse Baanbrekers.”

Op Kersdag, 25 Desember, word die wenner in die Hoërskole Afdeling aangewys op kykNET NOU! (Kanaal 146) om 5nm.

Die beoordelaars gaan ook die algehele wenner van Revue 2016 bekend maak.

Exit mobile version