Geliefde oud-burgemeester Chris Smith oorlede

Geliefde oud-burgemeester van Boksburg, Chris Smith, is op die ouderdom van 80 op Saterdag, 10 Desember, oorlede.

Hy was verkies tot burgemeester vir een termyn, in 1971.

Christiaan Dirk Swanepoel Smith is gebore in Kimberley op 16 Oktober 1936 en het later na Boksburg verhuis waar hy vir meer as 60 jaar gewoon het.

Smith was betrokke by die kerk, stadsraad en Nasionale Party.

Hy het ’n eretoekenning ontvang as Raadsheer en die Chris Smith Park, in Dayanglen, sowel as Chris Smith-straat, in Boksburg-Wes, is na hom vernoem.

“Chris was ’n uitsonderlike mens en ’n ware leier,” het sy swaer, Jan Marais, gesê.

Smith was ook ’n kranige duiweboer en het vir jare as voorsitter van die Boksburg Duiweklub gedien.

Hy het sy eie teling stasie vir vliegduiwe gehad, genaamd Chris Smith Lofts, en sy duiwe is glo regoor die wêreld verkoop.

Smith was huisvriende met Bless Bridges, wat ook ’n duiweboer was.

Hy was ook ’n perdeliefhebber en het selfs renperde gehad wat aan die Durban July deelgeneem het. Een van sy perde, Simon Magus, het glo al een keer vierde gekom by hierdie gewilde perdewedren.

Smith was ook ’n groot besigheidsman en het verskeie besighede en ’n groot aantal eiendomme in Boksburg besit.

Hy was ook ’n bekwame en groot wildjagter.

Smith was ’n gewilde mens onder die gemeenskap, maar ook ’n gesinsmens.

“Hy was ’n steunpilaar en geen woorde kan hom en wat hy vir almal gedoen en beteken het beskryf nie,” het sy kleinseun, Chris Smith, gesê.

Familievriend Martin Botha, het gesê dat Smith ’n fantastiese mens was, wat altyd geluister en raadgegee het.

Smith laat sy vrou (Anna), twee kinders (Peerie en Annami), en twee kleinkinders (Chris en Annandi) agter.

*Smith se teraardebestelling vind by die nuwe Boksburg begraafplaas op Donderdag 15 Desember om 10vm plaas. ’n Diens sal gehou word by die NG-Gemeente Boksburg-Wes om 12nm.

Almal is welkom.

Exit mobile version