Sarie Klub: Lag bly maar die beste medisyne

Willem Theron, beter bekend as “Blouwillem”, wat weekliks vir dagblaaie rubrieke skryf, het ’n kleurvolle praatjie gelewer by die Sarie Klub funksie, te Summer Place, op 18 Oktober.

Blouwillem skryf graag oor die donker wolk binne die silwer randjie en het mans en vroue aan die lag gehad met sy gunsteling grappe.

Hier is ’n paar van die grappe wat die maagspiere behoorlik laat prikkel het:

Rubriekskrywer Willem Theron, oftewel “Blouwillem”, het ’n kleurvolle praatjie gelewer by die Sarie Klub funksie te Summer Place, op 18 Oktober.

* As meisies ’n jong ou sien blomme koop, dink hulle dit is verskriklik oulik. As ons ou manne met ’n bos blomme daar in die Spar staan, is daar altyd ’n man of ’n vrou wat vir jou vra: “Wat het jy verkeerd gedoen?”.

* ’n Man het op ’n huweliksverrykingskursus gegaan en toe is daar ’n ou wat Engels praat. Die Engelsman sê toe dat die meeste mans nie eers weet wat hul vroue se “favourite flower” is nie. Die man leen toe na sy vrou toe en sê: “Dit is mos self-raising, né?”.

* Hierdie ou boesman keiser het blykbaar ’n drank probleem gehad. Hy is ’n ou polisieman. Toe het hy gaan getuig by hulle kerk hoe hy hierdie probleem oorkom het. Eers vertel hy dat toe hy nou daar by die wynskool kom, waar hulle hom moet afleer om wyn te drink, moes hy ’n klomp vorms invul. Nou is daar ’n vrou wat die vrae vra en die vorm invul. Toe vra sy op ’n stadium vir hom: “Meneer, wanneer het u u laaste drankie geniet?” Hy sit so en dink en sê: “Dame, dit sal oormôre twee dae wees.”

* Tydskrifte maak ’n man baie gelukkig: Sy een seun is op SA Rugby se voorblad as Rugbyspeler van die Jaar; sy ander seun is op Landbou Weekblad se voorblad as Jong Boer van die Jaar; sy vrou is op Sarie – Kos se voorblad; sy een dogter is op Rooi Rose se voorblad vir die Gesig van die Jaar, en die ander dogter, wat oorsee is, op Elle se voorblad; sy skelm op Loslyf se voorblad en sy skoonma op Weg!

* Die pa kom die een aand by die huis. Waar sy seun se kamer gewoonlik verskriklik deurmekaar is, is die kamer perfek netjies. Daar lê ’n koevert op die kopkussing en die pa skrik homself dood. “Watter koevert is dit hierdie?” het hy by homself gedink. Hy skeur die koevert oop en lees: “Pa, ek weet julle gaan nie hiervan hou nie omdat Santie 23 is, maar ek en Santie het besluit om saam weg te loop omdat Santie swanger is. Pa hoef nie bekommerd te wees nie; haar oom-hulle het ’n karavaan in die bos – ons gaan somme ‘wile’ mushrooms verkoop om aan die lewe te bly. Pa hoef nie bekommerd te wees nie, want Santie gaan nie vir altyd op dwelms wees nie. Ons sal op een of ander stadium die kleintjie vir pa’le ook kom wys.” Onder aan skryf die seun: “Pa, niks hiervan is waar nie. Hierdie is net om te sê daar is belangriker dinge in die lewe as ’n swak skool rapport.”

* Die ou het een keer gesê die huwelik is baie soos skaak. Die arme koning kan net een skuif op ’n slag maak en die koningin kan doen net wat sy wil. As jy vir jou vrou sê jy het ’n vrou gesien wat net soos sy lyk, dan sal sy vir jou vra of sy vir jou oulik is. As jy “ja” antwoord, is jy in die moeilikheid en as jy sê “nee”, is jy ook in die moeilikheid. Jy noem dit skaakmat.

 

Exit mobile version