Warm voete sorg vir warm harte

Warm voete is gelyk aan warm, gelukkige harte. Koue voete in die winter is tog vir niemand lekker nie.

Ten bate van die jaarlikse Warm voetjies vir koue dae-projek, het Solidariteit Helpende Hand, Boksburg, skoolskoene en ’n paar kouse aan die behoeftige leerlinge van Laerskool Goudrand geskenk.

Diegene wat met ’n splinternuwe paar skoolskoene huistoe gegaan het, se glimlagte was bykans breër as die lengte van die skoene.

Die Solidariteit Boksburg-tak kon 50 leerlinge se voete en harte warm maak.

“Solidariteit Helpende Hand is baie betrokke by skoolkinders, want hulle is die toekoms van ons land,” het Alida Reed, voorsitter van die Boksburg-tak, gesê.

Miss Earth semi-finalis, Luré Delport van Boksburg, saam met ’n paar Laerskool Goudrand leerlinge wat nuwe skoolskoene gekry het.

Die skoene is op 2 Junie, saam met Miss Earth semi-finalis, Luré Delport van Boksburg, aan die leerlinge oorhandig.

Delport was ook destyds ’n skolier aan Laerskool Goudrand.

Sy het wenke gedeel oor hoe om die aarde op te pas en te beskerm.

Solidariteit Helpende Hand is geheel en al afhanklik van skenkings en kan nie funksioneer sonder enige bystand vanaf die gemeenskap nie.

Reed bedank almal wat hierdie organisasie ondersteun en die projekte moontlik maak.

Om betrokke te raak by die plaaslike tak skakel vir Alida by 082 228 3552 of 011 826 1112.

Exit mobile version