Laerskool Concordia het onlangs twee geslaagde prysuitdelings gehou.
Carien van Krieken (graad een) is aangewys as die 2015 redenaarswenner vir Afrikaans in haar graad en sy het ook erekleure vir beide spanredenaars en kunswedstryd ontvang. Monty van der Mescht (graad drie) is in die Top 10 in sy klas en hy het erekleure vir kunswedstryd en die kunswedstrydtrofee in sy graad ontvang.
Die junior (graad een tot drie) eretoekenningsaand is op Dinsdag, 10 November, gehou en die senior toekenningsaand vir graad vier tot sewe leerders is Donderdagaand, 12 November, gehou.
Die skoolhoof, Christo Lodder, het die ouers bedank dat hul kinders vanjaar kon deel wees van Laerskool Concordia se bouwerk.
“Sonder die leerlinge as boustene sou ons skool nie so top presteer het nie,” het hy gesê.
Die leerlinge was vereer vir hulle akademiese prestasies en deelname aan skaak, kultuur, kunswedstryde, spanredenaars, redenaars, landloop en gimnastiek.