NewsSchools

Opwindende revue kompetisie vir Suid-Afrika

Lefra Produksies het sy opwindende nasionale revuekompetisie, Revue SA 2015, bekendgestel.

Hierdie lekker revuekompetisie vir laer- en hoërskole sal vanaf 12 tot 18 Oktober by Carnival City se Big Top Arena uitgespook word.

Frans Swart, hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies, waar die idee van ’n nasionale revuekompetisie ontstaan het, sê dat hy baie opgewonde is oor die projek.

“Laerskole en hoërskole spandeer soveel tyd, geld en energie aan hulle jaarlikse revue,” het Swart gesê.

“Ek het al baie van hierdie revues gesien, wat baie na aan professionele produksies se standaard is.

“Dit was dan altyd vir my hartseer dat daar nie ’n verdere lewe vir hierdie wonderlike revues is nie.

“Juis daarom het ons by Lefra besluit dit sal uitstekend wees om hierdie revues nog ’n slag te kan opvoer.”

Hy glo ook dat Revue SA 2015 ’n wonderlike forum sal skep vir skole om na mekaar se eie werk en produksies te kyk en te geniet.

“Dit gaan ook vir skole die geleentheid bied om te sien waar hulle eie standaard lê, deur dit met ander produksies te vergelyk,” het hy vertel.

Slegs 30 laerskole en 30 hoërskole sal aanvanklik gekeur word om deel te neem aan Revue SA 2015.

Om vir keuring aansoek te doen, moet die volledige inskrywingsvorm voltooi word en skole moet dan ’n 10 minute video saam met die inskrywingsvorm aanstuur.

Die sluitingsdatum hiervoor is 1 Oktober.

Keuring sal op 5 Oktober afgehandel wees, waarna gekeurde skole in kennis gestel sal word.

Volgens Swart sal die kompetisie op ’n uitklopbasis aangebied word.

“Ons wil ook graag ’n realiteitshoek aan die hele kompetisie gee,” het hy gesê.

“Die belangrikste, egter, is dat elke aand ’n wonderlike vertoning van dans, sang, beweging en kleur moet wees.

“Ons besef maar te goed dat Revue SA 2015 ’n kompetisie is, maar ons glo ook dat skole, onderwysers, afrigters en leerders die geleentheid sal gebruik om nuwe vriende te maak en ook om van mekaar te leer.”

Groot pryse is op die spel en elke deelnemer sal ook ’n sertifikaat van deelname ontvang.

Bekende beoordelaars en aanbieders sal ook ingespan word om van Revue SA 2015 ’n groot sukses te maak.

Vir meer inligting oor Revue SA 2015, kontak vir Lefra Produksies by 011 815 3000, of stuur ‘n epos aan navrae@revues.co.za.

Related Articles

Back to top button