Editor's choiceLocal newsNews

Ouma sterf kort na haar hond gevind is

Zena, ’n Jack Russell wyfie wat vir bykans 'n maand vermis was, was vir net drie dae met haar eienaar herenig toe tragedie weer tref.

Zena se eienaar, Ouma Jean Lindeque (73), is op Saterdagmiddag, 15 Augustus, aan ’n hartaanval oorlede.

Ouma, soos sy liefdevol bekend gestaan het, het vir weke getreur nadat Zena vermis geraak het, voordat die Jack Russell op 12 Augustus gevind is.

Zena het op 19 Julie besluit om ’n bietjie die dorp te gaan verken toe verwers die hek van die eiendom in Boksburg-Noord per ongeluk oopgelos het. Sy het nooit haar pad teruggevind nie.

Ouma was op daardie stadium in die hospitaal met hartversaking, en dogter Lynne Olivier moes na Zena omsien.

“Nodeloos om te sê, toe die hondjie op dié Sondag by die erf ontsnap, was almal in rep-en-roer by die huis,” het Wiekie Olivier, Ouma se skoonseun, vertel.

“Die hele Sondag het almal rondgery opsoek na die arme hondjie. Teen Sondagaand het niemand die hondjie gekry nie en dit was ’n groot tranedal by die huis.”

Die Maandagoggend (20 Julie) het Wiekie onmiddelik begin werk maak om al wat ’n DBV is te kontak oor verlore Zena.

Pamflette is gemaak en teen Dinsdag (21 Julie) het hy en Lynne oral pamflette in al die winkels van Boksburg-Noord opgesit.

Foto’s en pamflette is ook op Facebook geplaas om almal te versoek om vir Zena uit te kyk en om te vra of iemand weet wat van haar geword het.

“Lynne het elke dag vir ’n paar uur rondgery opsoek na die arme dingetjie,” het Wiekie vertel.

Intussen het hulle ook e-posse aan al die DBVs in en om Boksburg-Noord. Diereliefhebber-organisasies is ook gekontak om te verwittig dat hulle die hondjie soek.

Selfs op Sondag, 26 Julie, het die dominee van die Boksburg-Oos Gemeente, prof Gys Loubser, in die kerk afgekondig dat die hondjie vermis is en almal aangemoedig om asseblief vir haar uit te kyk. Pamflette is ook by die kerk uitgedeel.

Loubser se vrou, Heleen, het toe ook hiervan tehore gekom en sy het onmiddelik begin help om te soek na die hondjie.

“Heleen Loubser het totaal en al uit haar pad gegaan om ons te help soek,” het Wiekie gesê.

Loubser het verder gegaan en selfs by die skole omgegaan om pamflette uit te deel.

Elke dag was daar na Zena gesoek.

Die oggend van 12 Augustus het. Celia Jacobsen, ‘n onderwyseress van die Hoërskool Voortrekker die hondjie opgemerk. Toe sy by die skool kom het sy onmiddelik vir Lynne laat weet.

“Hulle het natuurlik die pamflette gesien wat by die skool uitgedeel is,” het Wiekie gesê.

”Lynne het onmiddelik in die motor gespring en gejaag na waar Zena moontlik was – in die veld net agter Laerskool JM Louw.

“Lynne het om die blok gery en niks gesien nie, maar het toe weer om die blok gery en wraggies vir Zena opgemerk.

“Nodeloos om te sê was hierdie ’n groot oomblik van vreugde en Lynne het huis toe gejaag om Zena na Ouma toe te vat.”

Volgens Wiekie was die ontmoeting te oulik.

Zena was in ’n baie goeie toestand, waaroor Wiekie en sy vrou baie verbaas was.

Heleen was blykbaar net so bly en het selfs vir Zena speelgoed gebring.

“Die aand van 12 Augustus was Zena veilig in die bed langs Ouma en die tweetjies was onafskeidbaar,” het Wiekie vertel.

Ouma was darem vir drie dae saam haar geliefde hondjie voordat sy skielik oorlede is.

“Hulle kon darem saam wees in haar laasste dae,” het Wiekie gesê.

“Ons weet dat die Here ons geliefde Ouma nou veilig in Sy arms het en dat hulle twee saam afkyk na ons terwyl ons met Zena speel.”

Olivier vertel dat die hele familie ontsettend hartseer is na Ouma se afsterwe.

’n Begrafnis diens was vir Jean Lindeque op Vrydag, 21 Augustus, vir Jean Lindeque gehou.

Wiekie bedank almal wat in die tydperk help soek het, insluitend Heleen Loubser, Celia Jacobsen en Riana Botha van die Hoërskool Voortrekker.

“Ons wil dan net laastens die Here bedank dat Hy so mooi na haar (Zena) gekyk het in die moeilike omstandighede.

“Dit was byna vier en ’n halwe weke wat ons gesoek het en nooit moed opgegee het om haar te kry nie.

“Almal het gesê moenie moed opgee nie, ons sal haar kry.” – @IschkeBoksburg

Also read:

Charity dog walk in Boksburg

Related Articles

Back to top button