Local newsNews

Helpende Hand stel ondersoek in na SAPD-kindersentrums

Solidariteit Helpende Hand het ’n nuwe veldtog van stapel gestuur om bewustheid te skep oor die milieu waarin kinders misdade aanmeld.

“Helpende Hand se 127 takke sal vanaf Vrydag, 17 Julie, ondersoek instel na wat presies die omstandighede by die polisiestasies, landdros- en gesinsadvokaatkantore in hulle onmiddellike omgewing is,” het Marlien van der Westhuizen, mediaskakelbeampte van Solidariteit Helpende Hand, gesê.

“Helpende Hand wil hiermee verseker dat die aanmeldingsproses so maklik en veilig vir kinders as moontlik is. Die

doel van die opname is om uit te vind waar Helpende Hand steun kan verleen om dié sentrums meer kindervriendelik te maak.”

Volgens Van der Westhuizen is daar verlede jaar 45 230 sake deur kinders aangemeld. “In elkeen van hierdie sake was daar ’n held – ’n polisiebeampte, landdros of gesinsadvokaat – wat help verseker het dat die slagoffer die nodige ondersteuning ontvang het. Dis vanweë hierdie helde se optrede dat 75 persent van die aanmeldings tot skuldigbevindinge lei.”

“Verlede jaar is 1 832 lewenslange vonnisse gevel teen persone wat misdade teen kinders gepleeg het. In die aangesig van hierdie skokkende statistieke wil Helpende Hand fokus op die 1 832 kere wat die sisteem foutloos gewerk het,” sê Van der Westhuizen.

“Ons wil daarom in die komende maand minstens 1 832 teddiebere insamel wat aan die sentrums regoor die land geskenk kan word om ’n kind te vertroos in hul uur van nood.

Die projekte sal deur die afsonderlike takke geïdentifiseer word en dan in die komende weke aangepak word. ’n Ontleding van die omstandighede sal in die komende weke in ’n Helpende Hand verslag bekend gemaak word.”

q Is daar ’n held in jou?

Praat met ’n Helpende Hand-streekorganiseerder en sluit aan by jou naaste Helpende Hand-tak om ’n sentrum te gaan besoek of skenk ’n teddiebeer deur dit by een van die versamelpunte af te lewer.

Die publiek kan ook ’n virtuele teddiebeer skenk deur “Teddie” na 38969 te SMS en sodoende R10 te skenk om die sentrums op te knap en toe te rus om kinders veilig te laat voel.

Vir meer inligting oor die projek skakel vir Elize Bezuidenhout of Medee Davel by 012 644 4390 of stuur ’n e-pos na elize@helpendehand.co.za of medee@helpendehand.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button