Editor's choiceLocal newsNewsUpdate

Eveleigh Estate sukkel glo met prostitusie, finansiële probleme

Nuwe aantuigings beweer dat die Eveleigh Estate prostitusie, dwelmsmokkelry en finansiële probleme ondergaan.

Peter Jordaan, ’n trustee van die kompleks, beweer “aktiwiteite van prostitusie en dwelmsmokkelry vind deesdae glo in die klein winkeltjie voor by die kompleks se ingang plaas”.

“Dit is al by die polisie aangemeld, maar ons het nie veel samewerking gekry nie,” het hy gesê.

“Dit moet tog ook ’n oortreding van munisipale verordeninge wees om ’n winkel in die middel van ’n voorstedelike gebied op te rig en onwettige dienste te verkoop.”

Ten spyte daarvan dat die beheerliggaam reeds onder finansiële druk verkeer, vertel Jordan dat die beheerliggaam dit oorweeg om’n aansienlike bedrag geld te spandeer aan die opgradering van die kompleks se sekuriteit.

Volgens Jordan het die ontwikkelaar, wie sedertien gelikwideer en insolvent verklaar is, feitlik 60 van die bykans 240 eenhede behou.

“Maar selfs voor dit, ongeveer drie jaar gelede, het die ontwikkelaar opgehou om die heffings betaal. Die beheerliggaam dra hierdie koste wat tot dusver heelwat meer as R5 miljoen beloop. Dit is ’n groot finansiële las wat behoorlike instandhouding van die kompleks byna onmoontlik maak.”

Die Advertiser het voorheen berig dat onwettige inwoners bydra tot Eveleigh Estate se finansiële probleme.

Jordan sê hy is bewus van sowat 20 eenhede waarin daar ingebreek is en wat nou beset word.

Hy vermoed dat daar ’n aantal voorbokke of skakelleiers in die kompleks woon wat hierdie inbrake van stapel stuur.

“Hulle hou dop wanneer inwoners uittrek. Hulle sal dan inbreek en persone nooi om daar in te trek,” het hy gesê.

“Daardie nuwe ‘intrekkers’ betaal die skakelleiers huur en wanneer die wettige eienaar opdaag, is die eenheid beset en word die wettige eienaar as die vyand gesien.”

Jordan meen daar is wel inwoners wat onder die indruk is dat hulle wettiglik in die kompleks woon en nie daarvan bewus is dat die huurkontrak wat hulle geteken het, nie met die regmatige eienaar is nie.

“Dit het so ’n jaar gelede begin en die laaste besetting was in Februarie vanjaar,” het Jordan beweer.

“Ons sit met 20 eenhede wat onwettig beset is en ons kan nie sê dat dit slegs die Kongolese is nie. Van die ander eenhede mag moontlik wettiglik beset word, soos die Kongolese beweer, maar ek weet nie.”

Hoeveel van die eenhede wettig en onwettig beset is in die kompleks bly onseker.

Volgens Jordan is die proses om kriminele klagtes teen persone te maak, nog altyd frustrerend.

“Dít is waar ek nie met die polisie saamstem nie. Ek verstaan die situasie rondom die wet en die 48-uur bepaling dat indien iemand vir langer as twee dae in jou eiendom woon jy hom nie sonder ’n uitsettingsbevel kan verwyder nie.

“Maar as iemand jou perseel sonder toestemming beset is dit tog ’n kriminele oortreding. Waarom word dit nie uitgevoer nie? Daar was tog gevalle van toegang wat met geweld uigevoer is.”

Volgens Jordan is eienaars huiwerig om ’n uitsettingsbevel te kry weens die kostes daaraan verbonde.

Jordan meen daar is drie oplossings tot hierdie oorhoofse probleem naamlik om kriminele aksie teen die skuldiges te neem, om ’n uitsettingsbevel te kry of om die sekuriteit op te skerp.

“Al drie roetes moet nagestreef word.”

Geen terugvoering is nog van die metro ontvang rondom die winkel buite die kompleks nie.

Lees vorige artikels:

Kongolese bedreig glo eienaars en agente

Eveleigh Estate se Kongolese-inwoners stel hul mening

Eienaar byna Waldorf-eenheid kwyt

Related Articles

Back to top button