Plek van ryk geskiedenis nou ‘spookdorp’

Die Boksburg middedorp was vir jare 'n historiese trekpleister, maar is deesdae ’n spookdorp vir die kunste, ’n hawe vir die haweloses en 'n misdaadbaken.

Bekende kunstenaar Barry de Villiers, wie aan beheer staan van die Boksburg Creative Arts Centre, is geskok met hoe die buurt – eens lewend met die kunste – vervalle geraak het.

De Villiers vertel hoe die Old Post Office Theatre – opgeknap teen ‘n duur koste – nou vir ‘n geruime tyd langs die kunssentrum leeg staan.

Hy sê die krane buite by die teater is al ongeveer vier maande gelede gesteel. Dit het ook ‘n impak op die kunssentrum, wat sonder water sit en sukkel met ‘n gebrek aan werkende toiletgeriewe.

“Ons is ons eie loodgieters en moet die toiletkraan elke keer oop en toe draai wanneer ons dit gebruik,” het de Villiers gesê.

“Die probleem word nie opgelos nie. ‘n Konstante stroom vars water gaan verlore. Dit is skokkend hoe min die metro voel oor die middedorp.

“Die teater het jare gelede ’n filmskool bestuur, maar met tyd is die klankapparate ook gesteel. En met tyd was die teater ook sonder krag. Vandag gader die teater stof en die deure bly gesluit.”

De Villiers meen die teater was laas ongeveer vier jaar gelede gebruik.

“Die opvoerings het afgeneem en toe heeltemal doodgeloop, omdat niemand dié plek in die aande wou besoek uit vrees nie,” sê hy.

“Dit is as gevolg van die misdaad wat in die omgewing toegeneem het, en ’n gebrek aan veilige parkering.”

Hy sê daar was ‘n tyd wat baie mense gebruik gemaak het van die Viktoriaanse-gebou (wat die teater huisves) wat voorheen ’n poskantoor was (in die ’60s is ’n nuwe poskantoor gebou), veral nadat dit mooi opgeknap was.

Die middedorp was ook ’n baie gewilde ligging vir die verfilming van rolprente, maar dit is ook iets van die verlede.

“Dit is hartseer, want die gebou huisves steeds teatergeriewe soos beligting, ’n verhoog en kleedkamers. Maar daar blyk geen plan om die kunste weer op die been te bring nie,” vertel hy.

Weens die misdaad in die area bied die kunstesentrum ook nie meer saans aktiwiteite aan nie.

De Villiers sê daar was ‘n tyd wat die sentrum allerhande kunsgeleenthede en werkswinkels aangebied het.

“Die gebou wat ons as die kunssentrum gebruik word nie onderbenut nie. Dit is net eenvoudig ‘n saak van geen ondersteuning nie. Ons wil baie doen, maar ons hande is afgekap,” verduidelik hy.

Volgens de Villiers beoog die Ekurhuleni raad om die sentrum vir ander doeleiendes uit te verhuur.

“Ons het al vroue gehad wat kralewerk en laslap kom doen het by die sentrum, maar hulle bly net ’n rukkie en sê dan dit is te ongerieflik om so ver van Vosloorus met die taxi te ry,” sê hy.

“So, niemand wil eintlik die plek hê nie. Die raad wil goed verander wat nie gebreek is nie.”

De Villiers vertel dat, weens die slordigheid van die middedorp, is daar voortdurend eienaardige mense wat aan die kunssentrum se deur kom klop, daarom hou hulle maar die deur gesluit.

Die ou gebou oorkant die sentrum, wat destyds as die B Owen Jones Apteek (waar medisyne en parfuum gemaak en verpak is) bekendgestaan het, word nou deur haweloses beset en word ‘n nes vir kriminele.

Volgens de Villiers word dié vervalle gebou ‘n miernes van aktiwiteite in die aand soos die haweloses opdaag

“Met ons laaste funksie, ’n paar jaar gelede by die sentrum, het die prostitute in ’n ry op die balkon van die gebou gesit en aangebied om voertuie op te pas, want ‘besigheid’ was stil. Tye het dus baie verander,” sê hy.

“So ogeveer 10 jaar gelede was dit so aangenaam in die middedorp, toe optredes in die teater opgevoer is. Die hotelkroeg oorkant die straat was nog lewend.

“Toe die apteek toegemaak het, het ’n luukse restaurant genaamd Pelican ontstaan. Daarna was die gebou vir jare gebruik deur Gino’s Pizza, wat mettertyd onttrek het, omdat die omgewing begin stil raak het.

“Toe word die gebou gebruik as ’n skuiling, maar daardie skuiling was bykans net so erg soos dit nou is.”

Teen spertyd het die Advertiser geen terugvoer van die Ekurhuleni Metro rakende hierdie klagtes ontvang nie. – @IschkeBoksburg

Market Street’s abandoned building a haven for the homeless

Exit mobile version