Voortrekkers geskool in veiligheidswenke

Die Boksburg-Noord SAPD het onlangs veiligheidswenke met die kinders van die Susan Badenhorst Kommando gedeel.

Die kommunikasiebeampte, Luit Juanita Coetzer, het die kinders bewus gemaak van ’n paar maniere om hulself teen misdaad te beskerm.

Coetzer het die volgende gedeel:

* Moenie iets by vreemde mense vat nie.

* Moenie ’n misdaad pleeg nie.

* Moenie alleen van die skool af loop nie.

* Moenie ander kinders boelie nie.

Een belangrike goue reël wat die kinders geleer het, is dat hulle die reg het om nee te sê.

Coetzer beveel ook ouers om bewus te wees van die inhoud van hul kinders se selfone, tablettes en Ipads.

Wendy Skeens, van The Pink Ladies, het Coetzer vergesel en sy het vertel dat dié organisasie spesialiseer in ondersoeke van verlore persone – nasionaal en internasionaal.

Daarna het sy vingerafdrukke van die jonger kinders geneem, sowel as ander biologiese identiteitsinligting, soos gewig, lengte en haarkleur.

Hierdie inligting is op ’n vorm ingevul en, indien die kind eendag verdwyn, kan al hierdie belangrike inligting gebruik word om ‘n opsporing moontlik te maak.

* Die Voortrekkers is ’n kultuurbeweging wat die moderne Afrikaner, in besonder sy jeug, bemagtig om as positiewe burgers en konsekwente Christene suksesvol te wees.

Die beweging bied lewensverrykingsprogramme aan, wat ouderdomsgerig is en konsentreer hoofsaaklik op spanwerk konsentreer.

Die Susan Badenhorst Kommando, bestaande uit 80 Voortrekkers, is vanjaar 35 jaar oud en kom weekliks bymekaar.

Maandeliks kom daar gewoonlik ’n kenner om sy kennis rondom ’n spesifieke onderwerp of beroep te deel. – @IschkeBoksburg

Exit mobile version