Ondersteuningsprogram reik uit om emosionele seer te herstel

REACH (Real people, Enthusiastic, Action, Christ-centred, Hope) to Celebrate Recovery is ’n ondersteuningsprogram wat die afgelope 10 jaar aangebied word.

Dié program word elke Dinsdag om 6.30nm by die Woord en Lewe Gemeente, Sunward Park, aangebied.

Volgens die programkoördineerder, Sybil Bezuidenhout, was die REACH program aanvanklik net gerig op persone wat in die web van verslawing vasgevang was.

“Die program is uitgebrei om ook die emosionele seer van dié persone se gesinne en vriende te ondersteun,” het Bezuidenhout gesê.

Ondersteuning word aangebied vir persone wat vasgevang is in dwelm en alkohol verslawing, dobbel, pornografie, verwerping, egskeiding, aggressie, enige vorm van mishandeling, depressie of wat selfs net moedeloos is.

“Die program is vir mense wie se seer letsels gelaat het en dit vir hulle ’n daaglikse stryd maak om ’n vol lewe te kan leef,” het sy verduidelik.

Volgens Bezuidenhout, is mense wat emosioneel ‘n seer en verwerping beleef, op verskeie maniere geneig om toe te gee aan negatiewe groepsdruk. Om dié rede neem die dwelm en alkohol afhanklikheidssyfers daagliks toe.

“Die moontlikheid bestaan dat, as gevolg van die negatiewe groepsdruk wat op sekere mense toegepas word, dit in aggressie en die gebruik van dwelmmiddels of die misbruik van alkohol kan manifisteer,” het sy vertel.

Bezuidenhout het ook gesê dat die gebruik van alkohol en dwelms al hoe meer sosiaal aanvaarbaar raak.

“Die waarheid is dat alkohol en dwelms mense beroof – dit steel finansies, huwelike, verhoudings, werke en, sekerlik die belangrikste, jou verhouding met die Here,” het sy gesê.

REACH bied ook ’n afwentelingsprogram aan vir persone wat met die gereg bots, as gevolg van dwelm- en alkoholafhanklikheid.

Die plaaslike howe verwys sekere beskuldigdes wat in kriminele howe verskyn na die program vir ’n voorgeskrewe periode en onder streng voorwaardes, omdat hulle ’n misdaad as gevolg van die gebruik van dwelms of alkohol gepleeg het.

Hierdie beskuldigdes moet dan ook aan sekere voorvereistes of kriteria voldoen.

“Die afwentelingsprogram, in samewerking met die howe, het ten doel om die persone ’n tweede kans te bied om te rehabiliteer, slegte gewoontes af te skud, die familieband te herstel en weer hulle voete te vind,” het Bezuidenhout vertel.

“Dit help hulle om nie uit die gemeenskap en samelewing verwyder te word nie en om nie met ’n kriminele oortreding te sit nie.

“Sou die voorwaardes nie nagekom word nie, sal die herinstelling van die vervolging weer oorweeg word.”

Volgens Bezuidenhout, bestaan ’n gevestigde samewerkingsooreenkoms tussen REACH, Henk Strydom (senior staatsaanklaer van Boksburg/Vosloorus Landroshof, ander howe en diensorganisasies).

Verwysings vanaf skole waar leerders hul skuldig maak aan dwelm- of alkoholmisbruik, word ook in die program hanteer.

“By REACH volg ons ’n Christen-gebaseerde program wat daarop fokus om mense te lei om weer ten volle binne die samelewing te kan funksioneer.”

Bezuidenhout het gesê die wenresep by REACH is die toegewyde vrywilligers wat deel uitmaak van die fasiliteerders in die program.

Tobie en Ria Tolken is die bedieningsleiers vir REACH to Celebrate Recovery en Karien Keeve die maatskaplike werker.

Vir enige verdere navrae of belangstelling, kontak vir Bezuidenhout of Keeve by 011 913 4567 of 084 618 7089, of stuur ’n e-pos aan karien@woordenlewe.com of reach@woordenlewe.com. – @IschkeBoksburg

Exit mobile version