Editor's choiceLocal newsNews

Eksklusief: ’n Indiepte onderhoud met die steroïede-seuns

“Die kinders het in die hof verskyn en is reeds gestraf; hulle hoef nie nog verder gestraf en soos kriminele behandel te word nie.”

Só sê die ouers van die twee tienerseuns, onderskeidelik 16 (graad 11) en 17 jaar oud (graad 12), wat op 29 Januarie in hegtenis geneem is vir die besit van steroïede ter waarde van R2 500.

Ten tyde van die voorval was die verdagtes leerlinge aan die Hoërskool Dr EG Jansen.

Die seuns beweer egter dat hulle nie steroïede gebruik nie, maar dit namens ander verbruikers gekoop het en dus vir dié ”fout” gestraf word.

Die seuns is egter kort ná hul terugkeer uit die skool verwyder, omdat hulle getreiter is.

Volgens die ouers het sommige onderwysers en die éintlike steroïede verbruikers dié twee seuns na bewering verontreg en dit vir hulle ondraaglik by die skool gemaak.

Daar was glo ’n warboel van dreigemente teenoor hulle gemaak.

“Ons het besluit om hul oorplasingsertifikate self te kry, dus is die seuns nie geskors soos berig nie,” het die 17-jarige seun se ma gesê.

Beide seuns is nou in ’n ander skool geplaas.

“Hulle moet hul skool loopbaan voltooi. Elke mens maak foute en mens moet daaruit leer,” het die oom van die 16-jarige seun gesê.

“Om vir hierdie twee kinders ’n nuwe skool te soek was egter ’n nagmerrie.

”Die ander skole het nie eers belangstelling getoon om die seuns ’n kans te gee nie. Die kinders is nie sieklik nie.

“Om hom [die matriekseun] betyds in ’n skool te plaas om vanjaar die eksamens te skryf was moeilik, anders het hy sy matriek-jaar gemis.

“Sy hele lewe was amper weggegooi, omdat hy vir iemand anders iets gaan koop het. En nou word hy nog verder daarvoor gestraf.

“Die skool wat vir die kinders ‘n tweede kanse gegee het weet van die voorval, maar het gesê hulle is bereid om te help.”

Die 17-jarige seun se ma het gesê dat die nuwe skool die kinders nie soos kriminele behandel nie en hulle ondersteun.

“Ek het baie respek vir hierdie skool gekry en is baie bly dat die skool met genade opgetree het,” het sy vertel.

“Ek sal hierdie skool met alles ondersteun.”

* Wat het daardie spesifieke dag gebeur?

Volgens die 17-jarige seun het hy die winkelsentrum oorkant die skool besoek om die steroïede namens vriende by die verkoper te kry. Die vriende was glo te bang om dit self te gaan haal.

“My vriende het die geld aan my gegee om die goed te gaan haal,” het die voormalige EG Jansen-leerling vertel.

“Terug op die skoolgronde het ek ’n gedeelte van die steroïede aan my mede-beskuldige gegee, sodat hy dit vir die seun kon gee, wie daarvoor betaal het.

“Hy het dit egter eers in sy tas gebêre voordat hy dit aan die persoon oorhandig het.”

Hy sê ’n rukkie later het die polisie by die skool opgedaag en slegs hierdie twee verdagtes ondersoek.

Die seuns het sonder enige huiwering aan die polisie gewys dat hulle in besit is van steroïede. Hulle is daarna per polisievoertuig na die Boksburg Noord SAPD geneem.

Die seuns het in die hof verskyn en moet nou ’n ses tot agt weke kursus deur Nicro in Germiston bywoon. Indien hulle nie hierdie kursus volg nie, sal die saak weer in die hof beland en die seuns sal met ’n kriminele rekord sit.

Die kursus handel glo oor lewensvaardighede.

“Die seuns weet hulle was verkeerd, hulle wil nie ’n kriminele rekord hê nie. Hulle moet die beste maak van die saak,” het die oom gesê.

“Hulle het nie die steroïede skooltoe gevat vir hul eie gebruik nie – hulle het dit vir iemand gevat, so hulle weet wie dit gebruik.”

Volgens die oom is daar na bewering ’n aantal ander verbruikers van steroïede in die skool wat ook handel dryf.

Daar is glo bewyse op die een beskuldige se foon van diegene in die skool wat steroïede gebruik en wie bang is dat hulle gevang word.

Die 17-jarige seun was ’n kranige eerstespan rugbyspeler vir EG Jansen.

Volgens die oom het sekere mense gesorg dat die twee seuns met die steroïede gevang word.

“Kinders wat in besit van steroïdes gevang is, word geskors, maar dié wat met dagga gevang word kom weg met die daad. Dagga is ’n hoër skedule dwelm as steroïede,” het die oom vertel.

“Die skool sê hulle wil die steroïede uitroei, maar wat word van die res van die leerlinge in die skool wat dit gebruik?

“Hoekom kan die skool nie erken hulle vermoed daar is ’n sekere aantal leerlinge wat steroïede gebruik nie? ‘Nêrens word daar eers melding daarvan gemaak nie.”

Die seuns het blykbaar ’n klomp name vir die skool en die polisie oorhandig van leerlinge wat steroïede gebruik. Volgens die oom het hy verstaan dat dié kinders getoets sal word.

“Die vraag is, waar is die uitslae van die toetse? Wie het die kinders getoets?” het hy gevra.

“Ons is nie bitter nie. Ons is op ’n manier eintlik dankbaar dit het gebeur, want nou kan die misbruik van steroïede gestop word,” het een ouer gesê.

“Ons kinders besef wat hulle gedoen het is verkeerd en hulle kry nou hulle straf, maar wat van die ander wat net aangaan met die gebruik van steroïede?

“’n Mens wil graag daardie kinders help, want steroïedes kan jou hart en lewer vergroot.”

Die ouers voel dat die skool oop kaarte moet speel en verantwoordelikheid moet aanvaar.

“Die skool dink hulle het ontslae geraak van die probleem, maar daar is ’n groter probleem in EG Jansen wanneer dit kom by die gebruik van steroïede,” het die ouer gesê.

Waaroor hierdie spesifieke ouer ongelukkig is, is dat die polisie onmiddellik gekontak is, eerder dat daar met die kinders gepraat word.

“As ouers is ons deur hel en terug met hierdie hele ding. Ons beleef vernedering, hartseer en pyn. Niemand besef die skade wat die seuns emosioneel aangedoen is nie,” het die ouer vertel.

“Dit het nie net hierdie kinders se lewens geraak nie, maar ook hul families, en dit het nou die skool se naam deur die modder gesleep.”

Die twee seuns het onderskeidelik ’n broer en ’n suster wie ook geteiken word. Daar is selfs spotprente van die twee seuns in sekere koerante geplaas.

“Ek dink hulle is nou genoeg gestraf. Hulle word behandel asof hulle moordenaars is. Jy maak een fout in jou lewe dan word jy soos ’n krimineel behandel,” het die ouer vertel.

EG Jansen skoolhoof, Leon de Beer, beskou die saak as afgehandel en wil nie verdere kommentaar lewer nie.

– @IschkeBoksburg

Related Articles

Back to top button