Trompie-kultuur beleef herlewing

Wie onthou nog die gewilde Trompie en die Boksombende-kinderreeks op televisie?

Die reeks was die skepping van Topsy Smith wat gehandel het oor die lede van die Boksombende – met Trompie (die Grootkaptein, gespeel deur Riaan Winter), Rooie (Ivan Ivanovich), Blikkies (Shaun du Preez) en Dawie (Petrus Jooste).

Daar is ook natuurlik Boesman – die brak!

In 1980, vir 11 episodes, het Suid-Afrikaners hulself verlustig in die manewales en avonture van die Boksombende wat op Kwaggaberg afgespeel het.

Die reeks het die verbeelding van vele aangegryp en het selfs geskiedenis gemaak aangesien, voor 1980, was enige vorm van kindervermaak in die vorm van tekenprente (Heidi) of daar was gebruik gemaak van poppe, soos in Liewe Hekise.

Dit het ook ‘n era ingelei waar dit belangrik geword het om ‘n bende te stig of aan een te behoort. Daardie tyd was die term “bende geweld” beperk tot die Boksombende se vermoë om te spaander na hul manewales.

Trompie en sy manne het volkshelde geword en in elke straat was daar iewers ‘n hond met die naam van Boesman.

Sowat 34 jaar later is die Trompie-kultuur steeds springlewend. Vandag het Trompie volksbesit geword en ‘n mens hoor dikwels sy naam in gesprekke.

Die herlewing het ‘n paar jaar gelede begin, toe die die lede van die bende na 30 jaar in Heidelberg vir die eerste keer weer ontmoet het.

Daar is toe besluit om ‘n Facebook-blad te stig oor die bende en, tot die verbasing van dié klompie, was daar ‘n geweldige reaksie van die publiek gewees.

Oor die jare was die reeks agt keer op televisie uitegesaai, wat beteken dat selfs van die nuwer generasies ook al kennis gemaak het met Trompie en sy bende.

Die Advertiser het ‘n geleentheid gehad om bietjie met Riaan Winter te gesels:

Winter vertel dat niemand in 1980 regtig geweet het hoe suskesvol die reeks so wees nie, en hoe dit ‘n impak op die land sou maak het nie.

“Nee wat, ons het nie die vaagste benul gehad hoe gewild Trompie so word nie,” sê hy.

Hy was een van duisende kinders wat oorspronklik deur Jan Engelen, die regisseur, in klaskamers van verskeie skole vir oudisies uitgekies is.

“Ons was kinders sonder enige ervaring as akteurs. Toe Engelen ons genader het, het niemand geweet wat vir ons wag nie,” sê Winters, wie op Stellenbosch bly.

“Gelukkig was ek bekend gewees met die Trompie-karakter toe ek die rol gekry het.

”Ek glo elke seun wou seker soos Trompie gewees het.”

Hy vertel dat, van die begin af, het hulle eenvoudige instruksies gekry van Engelen om net hulself te wees, en dus was hulle nie te streng gebonde gewees aan die dialoog nie.

“Ek was maar ‘n baie gewone 13-jarige outjie wat van rugby en pelle gehou het, en hier kies hulle my uit duisende skoolseuns vir die rol; ek het nooit voorheen my voet op ‘n verhoog gesit nie, maar ek het skynbaar soos ‘n Trompie gelyk, so ‘n tipiese onnut,” vertel Winter.

“Ek glo mense het van Trompie gehou omdat dit het gegaan oor die goeie ou dae. Trompie was stout, maar op ‘n goeie ou manier. Dit was veilige dae toe kinders nog kinders kon wees. Ek glo mense wil graag daarmee vereenselwig, veral in die geweldadige tye waarin ons nou lewe.”

Winter sê met ‘n glimlag hy was nooit darem so stout gewees soos Trompie nie, maar as ‘n kind was hy wel heel lewendig gewees!

Hy was hoofseun op Laerskool Fairland en onderhoofseun van die Hoërskool Linden in Johannesburg.

“Die tipies Afrikaanse skoolseun van daai tyd was woelig, maar het baie beskermd grootgeword. Kattekwaad, ketties, pampoenspoke en kleilat speel is die soort ding wat ons geken het.”

Die skiet van die reeks het oor naweke en oor skoolvakansies plaasgevind.

“Ons was seker vir so ‘n jaar besig omdat ons tyd was maar beperk,” sê Winter.

Sy gunsteling episode was Fietsdiewe: “Dit was vol aksie. Dit was ook een van die laaste episodes en teen daardie tyd het ek myself behoorlik ingeleef in die reeks.”

Rakend Boesman die brak, vertel Winter dat die hondjie ongelukkig tydens die skiet van die reeks gevrek het. Hulle moes toe Winter se eie hondjie gebruik om die rol van Boesman te speel.

Vir sy rol as Trompie het Winter sowat R4 000 losgeslaan (R30 ‘n uur), wat baie geld in 1980 was.

“Ek het met die geld beeste gekoop, wat ek weer verkoop het; ek het ‘n goeie bedrag gemaak,” sê Winter, wie onlangs ‘n plaas gekoop het, sodat sy kinders ook die plaaslewe kan ervaar.

Winter het na Trompie nooit weer in enige TV-reeks gespeel het. Hy het eerder sy heil in die sakewêreld gesoek.

Volgens hom was dit nooit sy doel in die lewe gewees om ‘n akteur te word nie.

Vandag is hy getroud met Karien en glo hy daarin om sy kinders, John en Thomas, goeie dissipline te leer.

Besoek die bende by www.facebook.com/kwaggaberg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version