Lê ‘n klag teen misdadigers, anders is dit hopeloos

Die SAPD het die gemeenskap se samewerking nodig om alle misdaad uit te roei, en dieselfde geld vir dwelms.

“Om ’n dwelmverkoper aan te keer en ’n suksesvolle vervolging in die hof te bereik, het ons die samewerking van die gemeenskap nodig,” sê Luit Juanita Coetzer, kommunikasiebeampte van die Boksburg Noord SAPD.

Ronel Nortje, ’n bekommerde Boksburg Noord inwoner, het haar vrees teenoor die dwelmhandelaars in hierdie area uitgespreek.

“Ek is moeg om onveilig te voel wanneer ek ’n brood gaan koop!

“Ons kan honderd maal sê ons wil nie hulle goed (die dwelms) gebruik nie, maar hulle sal openlik die goed aan ons probeer smous terwyl ons kinders dit moet aanskou.”

Volgens Nortje word sommige vroue ook verbaal geteister deur die dwelmhandelaars.

“Die polisie sien hulle en weet wat hulle doen, maar ry net verby; vir wat het ons dan polisie?

“Nie net ék is moeg hiervoor nie, maar almal is! Dit gebeur nie net met my nie, maar met baie ander.”

Volgens Nortje word die dwelms vanuit sekere winkels verkoop en gebruik die handelaars kinders om dwelms te smous.

“Ons lewe in vrees en niemand wil teveel sê nie, want hulle (die dwelmhandelaars) is vieslik wreed, en niemand wil regtig iets se oor die polisie se ignorance nie.”

Volgens Coetzer kan die SAPD inligting opvolg en ’n arrestasie kan uitgevoer word, maar die getuie moet ’n verklaring aflê om die saak geldig te maak.

“Dit is verstaanbaar dat die gemeenskap bang is vir vervolging deur die verkopers, maar ’n polisiebeampte is nie gevrywaar van dieselfde vervolging nie.

“Daarom moet ons saamstaan om die euwel uit te roei.”

Sy sê daagliks word dwelmverkopers- en gebruikers gearresteer.

“Hulle word voor die hof gebring, die polisiebeampte getuig en daarna word ’n vonnis opgelê, of hulle word vrygespreek.

“Talle van hulle kry ’n boete en is dan vry op straat.

“Wanneer ’n dwelmverkoper gevanggenisstraf opgelê word, is daar dan net weer ’n volgende verkoper wat met dieselfde misdaad voortgaan.

“Die punt is, as daar nie ’n koper is nie, kan daar nie ’n verkoper wees nie. Die probleem begin by die huis; ons jeug het nie toesig nie.

“En dis nodig in vandag se lewe om ons jeug streng te beheer en te dissiplineer. Ouers moet besef die jeug word blootgestel aan talle versoekinge, en daarom moet hulle streng toesig hou oor hulle kinders.

“Dit is waar dat sommige ouers vas glo dat hulle kinders nie ’n probleem het nie, maar dan is die kind alreeds ’n verslaafde. Sommige ouers glo dat hulle kinders net deur ’n fase gaan, maar tussentyd gaan die kind se skoolwerk agteruit en items in die huis raak weg.

Coetzer erken dat die SAPD ’n probleem met immigrante het wat in Boksburg Noord woonagtig is. Die meeste van hierdie immigrante het paspoorte en hulle papierwerk is in orde.

“Die SAPD kan niks aan ’n persoon doen wat wetiglik in ons land is nie.

“Wanneer ’n woonplek aan hierdie persone verhuur word, word dit wettiglik gedoen en kan die SAPD niks daaraan doen nie.

“Daarom kan die SAPD net die samewerking van die gemeenskap vra, sodat misdaad uitgeroei kan word,” sê Coetzer. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version