Plaaslike prokureur geskrap van rol

Prokureur Ben Moodie, wat praktiseer in Boksburg, is deur die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria van die rol vir prokureurs op Vrydag, 7 November, geskrap.

Die Prokureursorde van die Noordelike Provinsie het aansoek gedoen dat Moodie van die rol van prokureurs verwyder word nadat dit te lig gekom het dat hy in so ’n mate van professionele gedrag afgewyk het, dat hy nie geskik is om meer as ’n prokureur te praktiseer nie.

Die Orde het verskeie ernstige klagtes teen Moodie ontvang en aan ouditeure en rekenmeesters opdrag gegee om inspeksie van die respondent se rekenkundige rekords en praktyksake uit te voer.

Moodie het gepraktiseer vanaf 21 Junie, 1960.

Luidens waarnemende Regter AJ Lephoko se uitspraak en hofbevel, is die volgende gemerk:

* Moodie het trustfondsgelde van kliënte in sy persoonlike spaarrekening ontvang.

* Moodie het in sekere gevalle soos LL Swart fooie geneem van meer as 25 persent.

* Moodie het soos in die hofsaak van Vermaak en Swart, misluk om die volle waarheid aan sy kliënt/e te doen, en het geld vanaf die Padongelukkefonds (POF) in sy persoonlike rekening laat rente trek, in plaas daarvan om dit in ’n trustfonds te belê (soos die Prokureurswet bepaal), en die rente na bewering, vir homself gehou.

Die hof het beveel dat Moodie onmiddellik sy toelatingssertifikaat as prokureur en aktebesorger oorgee aan die registrateur van die hof.

Moodie is onder andere ook verbied om sake uit sy eie trustrekeninge te hanteer.

Volgens Jaco Fourie, ’n senior regsbeampte van die Prokureursorde, het Moodie nie die aansoek geopponeer nie, en het aangedui dat hy geen beswaar het indien sy naam van die rol verwyder word nie. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version