Help met ’n Kerspartytjie van hoop

Help ’n Barmhartige Samaritaan deur ’n bydrae te lewer tot die kerspartjie wat Marie van der Westhuizen vir ongeveer 97 minder-bevoorregte kinders in die Boksburg, Benoni, Brakpan en Springs omgewing beplan.

Die kerspartytjie sal by die Springs Boksklub, op Saterdag, 6 Desember, om 10vm tot laat middag plaasvind.

Ongeveer 69 gesinne word deur hierdie projek aangeraak.

Van der Westhuizen het verlede jaar met hierdie initiatief begin waar sy 78 kinders se harte bly gemaak het.

Sy het een oggend glo moedeloos opgestaan en die Here gevra wat Hy wil hê sy moet doen.

“Twee dae later het ek my antwoord gekry: ek wil die minder-bevoorregtes help.”

Ongeveer ses jaar gelede het Van der Westhuizen en haar twee dogters self deur moeilike, rowwe tye gegaan, daarom voel sy dit is haar plig om te help waar sy kan.

“Ek soek niks inruil vir wat ek doen nie.”

Die dag van die kerspartytjie beloof om opwindend vir die kinders te wees, met verskeie speletjies en ’n waterwurm en springkasteel waarop hulle kan baljaar.

Van der Westhuizen benodig die volgende om die kinders se kerspartytjie ’n sukses te maak: speelgoed en teddies vir kinders, en fondse of ’n bydrae vir eetgoed op die dag.

Sy beplan ook om ’n kospakkie saam elke kind huistoe te stuur.

Daarvoor vra sy dus vir die volgende donasies: lekkers, koekies, aanmaak koeldrank, nie-bederfbare kos, toiletware en meer.

“Ek gee vir elke gesin ’n kospakkie sodat hulle ook ietsie het vir die Kersseisoen.”

Sy wil ook graag vir elke gesin ’n kersgeskenk opmaak.

Daarvoor het sy die volgende nodig: speelgoed, teddies, klein bybeltjies, kinder- en grootmens klere en skoene, kombuis- en breekware, en linne en komberse.

Die babas se ouderdomme is as volg:

Baba dogters: een maand, twee maande, drie maande, vyf maande, ses maande, nege maande.

Baba seuns: een maand, twee maande, vier maande, twee van ses maande, sewe maande, nege maande.

Ouderdomme van groter kinders:

Dogters: een jaar, twee jaar, drie jaar, vier van vier jaar, twee van vyf jaar, twee van ses jaar, agt van sewe jaar, vier van agt jaar, drie van nege jaar, een van 10 jaar, vier van 11 jaar, twee van 12 jaar, drie van 13 jaar, 14 jaar.

Seun: een jaar, vier van twee jaar, drie jaar, vyf van vier jaar, twee van vyf jaar, vyf van ses jaar, sewe jaar, agt jaar, ses van nege jaar, twee van 10 jaar, twee van 11 jaar, twee van 12 jaar, 13 jaar, twee van 14 jaar, 15 jaar, 16 jaar.

Van der Westhuizen sal dit ongelooflik waardeer indien daar iemand is wat dalk weet van ’n nar of ’n poppekasspel, wat die dag vir die kinders spesiaal kan maak.

“Ek vra julle groot asb, uit die diepte van my hart, om dit in jul harte te vind om ’n verskil te maak en ’n glimlag op elke kind se gesiggie te sit en die gesinne se hartjies bly te maak vir die Kersseisoen.

“Mag die Here die mense seën wat my tot dusver gehelp het.”

Sy nooi almal om die dag te kom kyk wat sy vir die kinders beplan het.

Die sluitingsdatum vir enige donasies is 22 November.

Diegende wat wil help en ’n bydrae kan lewer kan Van der Westhuizen kontak by 072 048 3989. – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version