MunicipalNews

Ou myn begrafplaas moontlik in gedrang

Aangaande advertensie borde wat opgesit is by die ou ERPM (East Rand Property Mines) myn se begraafplaas, heers daar kommer onder inwoners weens die moontlike hersonering van hierdie eiendom.

Volgens die Comet Forum Twee se voorsitter, Jacques Lombaard, is sommige grafte (waar onder andere ou Chinese mynwerkers begrawe is) ongeveer 150-jaar-oud.

“President Paul Kruger het destyds opdrag gegee dat 40 000 bome in die streek geplant word, so die area het baie geskiedkundige en sentimentele waarde.

“Hierdie eiendom moet eintlik aangeteken word as ’n nasionale monument.”

Die kerk langs die begrafplaas was na bewering destyds die ou ERPM-hospitaal en krimatorium.

Volgens Lombaard is dit oneties om ’n begrafplaas te skuif, boonop sal die ontwikkeling van ’n winkelsentrum of kantoorgebou ’n groot impak op die verkeer in Rondebultweg en die inwoners van Comet hê.

Hy sê dat die gemeenskap bykans drie-jaar gelede die Comet Forum Twee van stapel gestuur het, met die hoofdoel om die area te beveilig, sowel as om kapsie te maak teen die ontwikkeling van die begraafplaas twee jaar gelede.

Die Forum het daarin geslaag om suksesvol die petisie met sowat 200 handtekeninge in te dien teen die beplanning van die privaat verkoop en ontwikkeling van ’n winkelsentrum op hierdie eiendom.

“Vir twee jaar het daar nie veel gebeur nie, en ons as Forum is baie trots dat die ontwikkelingplanne gestuit is.

“Die duiwel het egter weer wakker geword en sy kop uitgesteek en raai wat, dink julle dat ek enige antwoorde van die stadsraad of enige instansie kan kry met betrekking tot die ontwikkeling van – so siek as wat dit klink – die begraafplaas?

“Ons soek regsadvies en moontlike hulp met die optrek van ’n petisie om te verhoed dat ’n geskiedkundige stukkie grond verwoes gaan word deur ’n klomp geldgierige en gewetenlose fortuinsoekers.”

Volgens die Ekurhuleni metro se woordvoerder, Themba Gadebe, is die munisipaliteit nie bewus van enige aansoek op hersonering van hierdie eiendom nie.

“Die eiendom word steeds as ’n begrafplaas gebruik en geen aansoek is ontvang.”

Gadebe sê egter dat indien hierdie eiendom ontwikkel word, sal die grafte verskuif word na ’n alternatiewe perseel deur ’n regsproses.

“Die hersonering van die eiendom of dorpstigting is onderworpe aan die suksesvolle voltooïng van hierdie vereiste.” – @IschkeBoksburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button